Veteraan-atleet bring drie goues van SA’s huis toe
Komatipoort se veteraan-atletiekster het onlangs haarself weer tydens die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkampioenskap by die Groenpuntstadion in Kaapstad oortref.
Agatha-Lee du Plessis, ouma-atleet en onderwyser by Komatipoort Akademie, het op 6 en 7 Mei drie goue medaljes vir verspring, hoogspring en die 100m ingepalm. Sy het ook ‘n silwer in spiesgooi verower.
LEES: Atletiese ouma steeds ‘n meester op veld en baan
Sy kwalifiseer dus om Suid-Afrika in September by die Wêreldmeestersatletiekkampioenskappe in Spanje te verteenwoordig.
Die Suid-Afrikaanse Meestersatletiek-vereniging se doel is om atlete bo 35 jaar aan te moedig en reël byeenkomste waar hulle in hul eie ouderdomsgroepe en kategorieë teen mekaar kan meeding.
LEES: Veteraan-atleet verwerf weer goue medaljes
Sodoende kan skrander atlete hulle passie regdeur hul lewens voortsit en bewys dat ouderdom geen beperking is om hulle drome uit te leef of doelwitte te bereik nie.
