Ebersohn begin op losskakel
Dit was net 'n kwessie van tyd voordat Sias Ebersohn in die nommer 10-trui vir die Steval Pumas gaan uitdraf.
Kobus Marais, wat sedert die begin van die SuperSport-uitdaagtoernooi die skopwerk gedoen het, skuif na die plaasvervangersbank.
“Kobus het ‘n baie goeie wedstryd teen die Vodacom Blue Bulls gehad, maar ons moet Sias speeltyd gun in die beginspan, iets wat ons al ‘n rukkie wou doen,” het die Pumasbreier, Brent Janse van Rensburg gesê.
Ebersohn, wat gewoonlik op heelagter vir die Pumas gekies word, is die enigste verandering wat in die agterlyn vir môre se kragmeting teen die Xerox Goue Leeus op Emirates Airline-park, aangebring is.
Flank Nardus van der Walt wat verlede naweek van die bank af teen die Bulls gespeel het, begin in die plek van Willie Engelbrecht.
Lees ook: Ebersohn sluit tog by Pumas aan
“Jannie kry ‘n geleentheid na goeie bydraes op die veld en ons wil graag sien wat hy met die geleentheid kan verrig om in die beginspan te wees,” het Janse van Rensburg gesê.
Jannie Stander vervang vir Tazz Fuzani op flank wat nie die week deel van die 22-tal is nie.
“Soos altyd, verwag ons ‘n hoë tempo van die Leeus, so ons het die veranderinge aangebring om by die styl van die spel te pas. Ons moet van die afskop af voorbereid wees vir hulle om ons van ons voete af te speel. Ons moet regtig vinnig uit die blokke kom en verseker dat ons met dieselfde intensiteit en werkverrigting wat die Leeus bring, reageer.”
Lees ook: Pumas se sleutelspelers kry ruskans teen Namibië
Stephan Greeff, wat laas teen die Hino Valke in aksie was, is terug op die plaasvervangersbank.
Pumas
15. Devon Williams
14. Ruwellyn Isbell
13. Hennie Skorbinski
12. Ryan Nell
11. JP Lewis
10. Sias Ebersohn
9. Reynier van Rooyen
8. Carel Greeff
7. Nardus van der Walt
6. Brian Shabangu
5. Hugo Kloppers
4. Jannie Stander
3. Marné Coetzee
2. Marko Janse van Rensburg
1. Khwezi Mona.
Plaasvervangers
16. Frank Herne
17. De-Jay Terblanché
18. Stephan Greeff
19. Willie Engelbrecht
20. Emile Temperman
21. Kobus Marais
22. Jerome Pretorius.
