Tafel vir top-toernooi in Boksburg gedek
Verskeie plaaslike skole het verlede naweek die Laeveld se naam hoog gehou tydens die MSN-kampioenskappe wat onderskeidelik by Laerskool Nelspruit en Hoërskool Bergvlam plaasgevind het.
Volgens die voorsiter van Mpumalanga Skolenetbal, Renée Adendorff, was daar nagenoeg 260 spanne wat oor die twee dae deelgeneem het.
Die kampioenskappe betrek al die provinsie se groot, medium- en klein skole. Die top-vier grootskoolspanne in elke ouderdom, die top-drie mediumskoolspanne, en een kleinskoolspan van elke streek het teen mekaar gekompeteer.

Dié skole is dan in drie of vier groepe verdeel waar poelwedstryde gespeel is om te bepaal wie na die kwart- en halfeindronde, asook die eindstryd deurdring. Die drie spanne wat tydens die toernooi die beste gevaar het, reis eersdaags na Boksburg, waar al nege provinsies se bestes vanaf 4 tot 6 Augustus teen mekaar te staan sal kom.
Vier van Hoërskool Nelspruit se spanne het deurgedring nadat hulle o/14’s in die derde plek geëindig het, hul o/16’s eerste, en hul o/17’s en o/18’s tweede. Die gasheerskool stuur hulle o/16’s om die Laeveld te verteenwoordig nadat hulle in die derde plek geëindig het. In die Ubuntu-afdeling het Lydenburg se o/14’s en o/17’s deurgedring nadat hulle onderskeidelik eerste en derde geëindig het.

Die volgende laerskole het deurgedring
Groot skole
• Nellies
o/11, o/12 en o/13
• Bergies
o/13
Mediumskole
• Malelane
o/11 en o/12
Klein skole
Komatipoort
• o/11, o/12 en o/13.





