Klein Karmia wéér een van NGA se sterre
Skaars 'n week sedert Karmia van Jaarsveld (8) die victrix ludorum by die Mpumalanga Artistiese Gimnastiek-kampioenskappe verower het, het sy weer die afgelope naweek skoonskip by die Noord-Zone-kampioenskappe gemaak.

Die gimnas van Nelspruit Gimnastiek Akademie (NGA) het in vlak-2, met ‘n algehele eerste plek uit 71 deelnemers, met ‘n gemiddeld van 9,325 gespog.
Haar prestasie was die hoogste gemiddel van al die vlak-2-deelnemers. Karlien het ‘n eerste plek op die brug en ‘n derde plek op spronge behaal.

Twané Steyn (vlak-3, 10 jaar) het óók met ‘n goue medalje om haar nek van Centurion af teruggekeer.
Sy het stof in haar teëstanders se oë geskop met ‘n eerste plek op die balk, ‘n tweede op spronge en het ‘n derde plek verower met ‘n gemiddeld van 9,3125.
Hulle spanmaat, Sienna Hoffman (vlak-1, ses jaar), het ook ‘n plek op die podium ingeneem nadat sy algeheel tweede uit 93 gimnaste geëindig het. Sy het ‘n gemiddeld van 9,2375 vir haar eerste plek op spronge behaal.
NGA het algeheel 29 goue, 17 silwer-, en ses bronsmedaljes, teruggebring. Tswane, Noord-Wes, Mpumalanga, Sedibeng en Limpopo was van hulle kompetisie.
Caitlyn Diederiks (vlak-1, agt jaar) spog met ‘n bronsmedalje met ‘n gemiddeld van 9,3125 vir haar tweede plek op spronge.
Malise de Villiers (vlak-, 12 jaar en ouer) het algeheel tweede uit 26 gimnaste gekom met ‘n eerste plek op balk met ‘n gemiddeld van 9,1. Ook Jasmin Muller (vlak-2, nege jaar) was algeheel derde
met ‘n eerste plek op balk en ‘n gemiddeld van 9,15.

