Witrivier bespreek hul plek in halfeindstryd
Met net 14 spelers op die veld, het die tuisspan twee drieë gedruk om verder sout in die besoekers se wonde te vryf.
Witrivier Rugbyklub het Saterdag die Hoëvelders behoorlik gewys waar Dawid die wortels begrawe het, toe hulle vir Middelburg 45-24 in die Mpumalanga Rugby Unie Premierliga, verpletter het.
Met dié wen, is Witrivier van ‘n tuis-halfeindronde verseker wanneer hulle op 15 Julie teen Nelspruit Rugbyklub te staan sal kom.
Albei die twee spanne lê tans op 25 punte, maar omdat Witrivier oor ‘n groter punteverskil beskik, kry hulle die tuisveldvoordeel.
Middelburg kom eersdaags teen Sasol van Secunda op hulle tuisveld te staan en die wenners van dié kragmetings sal op 22 Julie kragte meet.
Middelburg se loesing kan merendeels toegeskryf word aan ‘n gebrek aan dissipline.
Hulle verdediging was rotsvas, maar talle gevaarlike duikslae het hulle in die sop laat beland en Witrivier het dié geleenthede uitgebuit.
Die tuisspan het in die eerste 10 minute twee drieë onder die pale gedruk en het dit suksesvol verdoel.
Middelburg kon eers in die eerste kwart van die wedstryd punte aanteken, nadat die tuisspan vir onkantspel geblaas is. ‘n Paar minute voor rustyd het die besoekers van hulle eie doellyn af, ‘n drie onder die pale gaan druk.
Met die telling 26-10, was Middelburg se selfvertroue hemelhoog en in die eerste paar minute van die tweede helfde het hulle weer onder pale gaan kuier.
Een van Middelburg se sterspelers, is weens swak disipline, met ‘n rooikaart van die veld gestuur.
Met net 14 spelers op die veld, het die tuisspan twee drieë gedruk om verder sout in die besoekers se wonde te vryf.
Middelburg het ‘n troosdrie in die doodsnikke van die kragmeting gedruk, maar dit was heelaas te laat.










