Local sportSport

Tennis-ghoeroe rig deesdae by NHS af

"Daar is geen kortpaaie nie." 

So het Hoërskool Nelspruit se nuwe tennisafrigter en sportspesialis, Petrus Koekemoer gesê.

Karakter en dissipline is vir hom van die kernwaardes vir ‘n tennisspeler wat bo wil uitkom.

As dit jou droom is om vir ‘n skool of ‘n klub te speel, of as jou drome so groot is dat dit ander bang maak, is Koekemoer die afrigter wat opkomende sterre van môre kweek.

Hy glo daarin om ‘n sterk fondasie van basiese tegnieke te lê wat spelers moet bemeester en op voortbou.

In sy program word op verskeie aspekte van die sport gefokus.

“Die pad wat ‘n tennisspeler stap om by sy eindpunt uit te kom, is lank en moeilik, en daarom is dit belangrik om die einddoel in gedagte te hou.”

Victor Lilov van die VSA, het onder die bekwame afrigting van Koekemoer, een van die grootste junior toernooie ter wêreld, die Orange Bowl se trofee omhoog gehou.

Koekemoer het die afgelope ses maande voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, saam met sy mentor, Steve Smith afgerig.

Hy kom oorspronklik van die Oos-Kaap af en sy loopbaan as afrigter het reeds op die brose ouderdom van 17 vlam gevat. Suid-Afrika se Esmé Kruger was een van die eerste spelers wat hy afgerig het. Sy was destyds teen die viermalige Australiese Ope-kampioen, Monica Seles, in aksie.

Koekemoer het intussen ‘n groot liefde vir die sport ontwikkel en beskou homself steeds as ‘n student.

“Ek leer nog elke dag,” sê hy. “Die tenniswêreld bied so baie vir dié wat ‘n passie daarvoor het en dit is vir my belangrik om elke speler te ontwikkel en altyd na beter te streef.”

Sy uitgangshoek is dat daar nie ‘n regte of verkeerde manier is om ‘n bal te slaan nie, maar eerder ‘n effektiewe of oneffektiewe manier. Dit beteken slaan met die minste beweging en die minste spierinspanning, ook as die ekonomie van beweging bekend.

“Tennis is die beste beginsport vir ‘n kind.”

Hy verwys na vorige kampioene in ander sportsoorte wat moeilike keuses tussen tennis en hul onderskeie sportsoorte moes maak. Manne soos Ernie Els, Herchelle Gibbs en AB de Villiers.

“Hulle het almal eers baie goeie tennis gespeel voor hulle in ander sport presteer het. Ons leer elke speler dat balans baie belangrik is. Dit is belangrik om eers ‘n student en dan ‘n atleet te word.”

Hoewel Koekemoer nie van kleintyd af tennis gespeel het nie, het hy in krieket belanggestel.

“Ek het altyd as ‘n jong lat vasgenael voor die kassie gesit en tennis kyk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button