‘n Krieketskouspel wag op die Laeveld
Daar word meer as 80 wedstryde tydens die toernooi gespeel en volgens die organiseerder, Iaan Jacob, is dit die perfekte geleentheid vir skole om op 'n kompeterende vlak met mekaar mee te ding.

Laerskool Witrivier ontvang eersdaags nagenoeg 160 seuns vir die land se grootste kriekettoernooi vir laerskole. Met meer as 38 spanne van 13 skole, bied die Trevor Smith-krieketweek die ideale geleentheid om spelers se vernuf vir die komende liga in kwartaal drie te ontwikkel.
Wedstryde vind by Laerskool Witrivier, Rob Ferreira, Laerskool Nelspruit, Nelspruit Primary en Laerskool Laeveld plaas.
Betrokke skole is Barberton, Dr Annecke, Goedehoop, Kanonkop, Klipfontein, Laeveld, Malelane, Nelspruit, Numbi, Primary, Taalfees en Uplands.
Wat aanvanklik in 2008 as die gasheer se oefenweek begin het, het begin groei toe Goedehoop en Klipfontein by hulle aangesluit het.
Vandag word meer as 80 wedstryde tydens die toernooi gespeel en volgens die organiseerder, Iaan Jacob, is dit die perfekte geleentheid vir skole om op ‘n kompeterende vlak met mekaar mee te ding.
“Hoewel die wedstryde nie noodwendig oor wen of verloor gaan nie, is daar dikwels heelwat uitblinkers. Jaque Stassen van Laerskool Witrivier het verlede jaar ‘n indrukwekkende 108 lopies aangeteken.
In sy tweede vennootskap met Henno Hattingh het hulle ‘n skitterende 168 lopies aangeteken,” sê Jacob.
Gaan hou van die Trevor Smith Krieketweek 2017 Laerskool Witrivier Facebook-blad vir meer inligting. Die toernooi vir die o/9’s tot o/11’s vind vanjaar van 9 to 12 Julie plaas, en vir die o/12’s en o/13’s van 12 tot 15 Julie.
Krieketliefhebbers word uitgenooi om hierdie skouspelagtige krieketweek saam te kom geniet.
