Nóg ‘n silwer vir Faantjie
Faantjie Steyn het vir die tweede agtereenvolgende jaar 'n silwermedalje by die Suid-Afrikaanse Stoeikampioenskappe, wat Saterdag in die Noord-Gautengsaal in Pretoria beslis is, behaal.
KwaZulu-Natal se Wiehan Whelan, wat in 2015 ‘n bronsmedalje by die Afrika-kampioenskappe om sy nek gehang het, is die land se nuutgekroonde kampioen.
Steyn van Nelspruit Stoeiklub (NSK) het Mpumalanga Stoei-vereniging in die junior afdeling vir 69 tot 74 kilogram verteenwoordig.
Hy het teen verskeie stoeiers wat junior Protea-kleure verower het, meegeding.

Die hoogtepunt van die dag was toe hy Elliot Khulekani Fat, wat vroeër vanjaar sy land by die Afrika-kampioenskappe in Marokko verteenwoordig het, geklop het.
Hy het reeds in die tweede ronde, nadat hy Khukelani Fat reg teen die einde met ‘n pen grond toe gevat het, die wen in sy sak gehad.
“Na vier jaar se harde werk en voorbereiding, verdien Faantjie die silwermedalje. Mits hy sy temperament beter bestuur, kan ek nie sien waarom hy nie een van Suid-Afrika se top-stoeiers kan word nie,” het die afrigter van NSK, Hansie Kruger gesê.
“Ek het geen twyfel dat hy die span, wat in 2018 Suid-Afrika in Tunisië gaan verteenwoordig, kan haal nie.”
Nóg ‘n plaaslike stoeier, Vee-André Swanepoel, was ook in aksie in Pretoria.

Swanepoel, wat lid van die Witrivier Stoeiklub (WSK) is, het in die kadetafdeling in die 69 tot 74 kilogram deelgeneem.
Hy het algeheel sewende geëindig.
“Hy het in ‘n baie kompeterende afdeling deelgeneem. Gegewe sy ervaring en blootstelling, het hy homself goed van sy taak gekwyt,” het Kruger gesê.

