Pumas verras dalk teen 2016-titelhouers
Hoërskool Nelspruit se Stephan van der Bank en SP Muller is vir die tweede agtereenvolgende jaar in die Pumas se o/18 Coca-Cola Cravenweekspan ingesluit.
NHS het agt spelers wat vanaf vandag by St Stithians College in Johannesburg in aksie gaan wees.
Die Pumas kom in hulle eerste wedstryd teen die verdedigende kampioene, Westelike Provinsie te staan. Die manne in die pienktruie het in 2006 en weer in 2008 die WP geklop.
Dit is die eerste keer sedert 2006 wat Johannesburg gasheer vir die jeugweek speel.
Verlede jaar was ‘n droomjaar vir die Pumas. Dit was die eerste keer sedert 1997 dat hulle nie een wedstryd verloor het nie.
Hulle is vanjaar sesde vir die Cravenweek gekeur.
“Wie weet? Die kans is daar dat ons WP kan klop. Die spelers is reg en opgewonde vir die week. Ons doel is om vanjaar algeheel vierde te eindig,” het die hulpafrigter, Chris Mans gesê.
Vleuel, Thaakir Abrahams en WP se heelagter, Muller du Plessis is verlede jaar na afloop van die Cravenweek in die SA Skolespan opgeneem. Angelo Davids (vleuel) het vir die SA Skolesewesspan uitgedraf.
Oos-Londen het in 1964 die heel eerste o/18 Cravenweek aangebied.
Sederdtien het die Pumas in 144 wedstryde gespeel waarvan hulle in 80 aan die wenkant was, ses gelykop gespeel het en net 58 wedstryde verloor het.
Die Pumas meet vandag om 13:15 kragte met die WP. Die wedstryde word op DStv, kanaal 201 gebeeldsaai.
Interessante feite
O/18 Coca-Cola Cravenweek 2016
Pumas
Speel – 3
Wen – 3
Verloor – geen
Punte vir – 108
Punte teen – 67
Drieë gedruk – 12
Drieë afgestaan – 9.
Die Pumas was sedert 1964 tot 2016 in die volgende jare onoorwonne:
1980, 1982, 1984, 1986, 1987, 1991, 1995, 1997 en 2016.









