Witrivier Rugbyklub (WRK) het hulle plek in die eindstryd van die Mpumalanga Premierliga bespreek nadat hulle Nelspruit Rugbyklub (NRK) met 45-26 op eersgenoemde se tuisveld, geklop het.
WRK kom Saterdag teen die enigste onoorwonne span in die liga, Sasol in Secunda te staan.
Witrivier se Ross O’Mahoney en Johannes Jonker het elk twee keer agter die doellyn besoek afgelê.
Die tuisspan se skrumskakel, Curvin Appolis het reeds vroeg in die kragmeting die eerste vyfpunter aangeteken met die heelagter, Edlred James wat verdoel het.
Nelspruit se Juan Bester het dadelik met ‘n onderskepdrie teruggeslaan. Brady Theron was suksesvol met die doelskop. Tjokkie van Tonder het ‘n hoë skoppie in die lug gelanseer wat tot ‘n drie vir Justice Mkhonto gelei het. Theron se skop was net kort van die doelpaal.
Nelspruit se verdediging het hulle deurgaans in die steek gelaat en Witrivier het dit uitgebuit.
Jonker het ‘n drie vanuit ‘n lynstaan gedruk en Witrivier se Omahoney het ook die doellyn gaan opsoek, met die rustydtelling van 21-12 in die gasheerspan se guns.
Die tellinghouer het nie in die tweede helfte grondgevat nie aangesien Witrivier se Marchelino Marais en Jonker elk maklike drieë aangeteken het.
Nelspruit se Mishack Fakude se kraglopie van oor die 20 meter, het die punteverskil na 14 punte laat krimp, maar dit was heelaas nie genoeg om hul ondersteuners op die voorpunt van hul stoele te laat sit nie.
WF Kotze en O’Mahoney se laaste drieë, het Nelspruit se doppie finaal geklink.
‘n Troosdrie is deur NRK se Handré van Graan kort voor die eindfluitjie aangeteken.
“Witrivier het met alles wat hulle het gespeel, maar ons het niks anders verwag nie. Hulle het elke geleentheid gebruik wat na hulle kant toe gekom het en briljante rugby gespeel. Elke speler het sy hart uitgespeel,” het NRK se breier, Freek Carelse gesê.
Komende naweek se kragmeting bepaal watter span in die gesogte Gold Cup, voorheen bekend as die Gemeenskapsbeker, gaan meeding. Mits Witrivier die span van Sasol klop, sal dit die tweede agtereenvolgende jaar wees wat Witrivier vir dié reeks kwalifiseer.
“Sasol is ‘n baie goeie span. Hoewel ons met baie beserings sukkel, het ons goed voorberei en glo dat ons ‘n baie goeie kans het om hulle op hul tuisveld te klop,” het die afrigter van WRK, Charles Gates gesê.




