Loskopstut van NHS vir SA Skolespan gekies
Saru het Donderdag die Suid-Afrikaanse Skolespan, wat in Augustus teen onderskeidelik Engeland, Frankryk en Wallis in aksie gaan wees, aangekondig.
Hoërskool Nelspruit se Banele Mthenjane is deel van die SA Skolespan wat 6 Augustus in Stellenbosch vir ‘n oefenkamp, ter voorbereiding vir die o/19-reeks bymekaarkom.
Die 17-jarige was verlede jaar deel van Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se “droomspan” wat in die Paarl aan ‘n oefenkamp deelgeneem het.
Hy is die enigste Pumaspeler van die o/18 Coca-Cola Cravenweek wat deel van die groep van 28 ingesluit is.
Die SA Skolespan kom Vrydag 11 Augustus teen Wallis, die daaropvolgende Dinsdag teen Frankryk en die 19de teen Engeland te staan.
Banele is die derde stut van NHS wat vir die spogspan gekies is.
Conrad van Vuuren, wat onlangs sy Superrugby-debuut vir die Vodacom Blou Bulle gemaak het, het in 2015 vir die SA Skolespan uitgedraf en Dewald Maritz was verlede jaar by die span ingesluit.
Banele sal die halfeindstryd van die Virsekerbeker wat 12 Augustus op NHS se velde beslis word, misloop.
“As afrigter is ek ongelooflik trots op Banele. Dit is waarna ons as afrigters streef, om ‘n speler op die hoogste moontlike vlak van sy skoolloopbaan te kan kry. Ons gaan hom beslis in die Virsekerbeker mis, maar dit gee nou weer die geleentheid vir ‘n ander speler om sy merk te maak,” het die afrigter van die KMI Aiport Rhinos, Gerhard Holtzhausen gesê.
