PAS IN: “Bankies” ook op pad na Stellenbosch
Losskakel van Hoërskool Nelspruit, Stephan van der Bank, is ook op pad na Stellenbosch om by die Suid-Afrikaanse Skolespan aan te sluit.
Afrigter van NHS, Gerhard Holtzhausen het Maandag om 11:00 ‘n oproep van die bestuurder van Saru se hoëprestasie-eenheid, Herman Masimla ontvang oor, Stephan van der Bank, of “Bankies” se insluiting in die SA Skolespan.
Holtzhausen het Stephan sopas by die lughawe afgelaai.
“Dit is ‘n groot teruggslag vir ons omdat hy nie vir volgende Dinsdag se halfeindstryd van die Virsekerbeker beskikbaar gaan wees nie. As afrigter is ek geweldig trots op hom. Om twee van NHS se spelers in die span te hê, is skitterend.”
Loskopstut van NHS, Banele Mthenjane is reeds in Stellenbosch waar hy vir die SA span diens doen.
Laasgenoemde het Vrydag teen Wallis in die eerste van drie o/19-internasionale reekse te staan gekom en was met 28-30 aan die verloorkant.
Die volgende wedstryd vind volgende Dinsdag teen Frankryk plaas.

