SA titels wink vir klub se stoeiers
Nelspruit Stoeiklub (NSK) se lede het aan seker een van die strafste kompetisies op die stoeikalender, die Johny Reitz-ope, wat die afgelope naweek in Pretoria gehou is, deelgeneem.
NSK het sewe stoeiers gehad wat in aksie was. Jean Erasmus het ‘n derde plek op die podium ingeneem.
Christo Nagel en Stefan Kruger het elk silwermedaljes verower terwyl Joshua Devine (goud en silwer),
Triston Kleinhans en Bione Kleynhans met goue medaljes teruggekeer het.
Carl Myburg het ‘n vyfde plek behaal.
“Hy skiet nog ‘n bietjie kort aan ondervinding, maar klop reeds stoeiers wat heelwat meer ondervinding as hy het. Hy het beslis die potensiaal om binnekort saam met die meer gesogte stoeiers te kan blaf,” het die afrigter van NSK, Hansie Kruger gesê.
Joshua het ongekende talent en gaan eersdaags ‘n groot bedreiging vir sy teëstanders wees om later vanjaar die Suid-Afrikaanse titel te verower.
Triston was uitstaande en in ‘n klas van sy eie. As hy sy voete op die grond hou en hard werk, wink die SA baadjie vir hom.
“Stefan is ‘n kampioen in wording. Daar moet een of twee veranderinge aan sy tegniek aangebring word, maar hy sal ook ‘n kandidaat wees om die titel agter sy naam te skryf. Kruger het ook geen twyfel dat Jean die land se nommer een sal wees nie.”
Bione staan ook ‘n kans om as kampioen gekroon te word. Christo leer elke dag en gegewe sy ondervinding, is hy reeds ‘n gerekende stoeier en die kans is goed dat hy ook die titel sal kan inpalm.
Harde werk lê vir die plaaslike stoeiers voor om op hulle beste by die SA kampioenskappe wat vroeg in Oktober, ook in Pretoria beslis word, te wees.



