Interprovinsiale span vir gala aangekondig
Die tweede Mpumalanga Winter-kortbadkampioenskappe is Saterdag by Penryn College beslis.
Ehlanzeni-interhoër se senior victor ludorum, Jetro Piso van Uniswim Nelspruit is na afloop van die kampioenskappe as die top- senior seunswemmer aangewys.
Hy deel die trofee met Andrew Matthew (Middelburg/Witbank Uniswim).
Die 16-jarige het in al agt items waaraan hy deelgeneem het, ‘n goue medalje om sy nek gehang. Die eerste was die 50-metervryslag met ‘n tyd van 25,17 en die laaste was die individuele 200-meter- wisselslag met ‘n tyd van 02:21,93.
Nog ‘n swemmer van Uniswim, Emma Beyers het met die junior trofee weggestap.
Sy het drie goue en een silwermedalje in haar sak gesteek.
Mpumalanga Swem het Woensdag die span wat die provinsie volgende naweek in Johannesburg by die interprovinsiale kampioenskappe gaan verteenwoordig, aangewys.
Liza-Mari Drummond en Mel Stronkhorst is Mpumalanga se kapteine.











