Vlammies val vas teen Franse
Hoërskool Bergvlam het Saterdagmiddag op hulle tuisveld, lelik kleigetrap teen Montpellier wat uit die staanspoor hulle vlam geblus het.

Die wedstryd is teen ‘n ongelooflike tempo gespeel, en hoewel die tuisspan deurentyd hard teruggeveg het, was dit tevergeefs.
Montpellier het keer op keer agter die pale gaan kuier en teen rustyd was die telling 22-10 in die besoekers se guns.
Lees ook: Vlammies begin seisoen op ‘n wennoot
Toe die tweede helfte aanbreek, het Montpellier een van hulle sterspelers op die veld gebring. Mathis Galthie, seun van die bekende Fabian Galthie, was uitstekend op die aanval en het grootliks tot nog vier drieë vir sy span bygedra. Hy sluit eersdaags by Toulon aan.
Bergvlam het verskeie geleenthede deur hulle vingers laat glip terwyl Montpellier se diepte en vinnige hande en voete hulle deurentyd op hulle knieë gedwing het. Die besoekers wen dan die sosiale kragmeting met 48 teenoor Bergvlam se 10. As blyk van waardering het Montpellier aan elke seun ‘n baadjie oorhandig.

“Die kuieraksie was ‘n reuse, spontane geselligheid waarop gesing en gesels is. Bergvlam het die seuns geleer wat braai is en hoe om regte Suid-Afrikaanse braaibroodjies te maak,” het die skool se skakel-beampte, Mandy Barnard gesê.




