Local sportSport

NHS na drie jaar weer in eindstryd

Die tafel is gedek vir die eindstryd van die Virsekerbeker vir makroskole.

Hoërskool Nelspruit se KMI Airport Rhinos kom môre om 13:00 teen Hoërskool Monument op Rhinopark te staan.

NHS het verlede jaar in die kwarteindstryd van die Virsekerbeker teen die einste span van Krugersdorp met 24-21 vasgeval.

Nelspruit het Dinsdag op hulle tuisveld vir Hoërskool Centurion met 45-7 verslaan, terwyl Monnas die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein met 31-24 in Pretoria geklop het.

Afrigters Gerhard Holtzhausen, Corné Steenkamp en Chris Mans het geen verandering aan hulle wenresep gebring nadat die span van NHS vir Woeries vermorsel het nie.

NHS het al die speelwerk teen Woeries gedoen, maar relatief min gehad om daarvoor te wys. Hulle sal môre meer geduldig moet wees as hulle met die bal in hand speel.

Stephan van der Bank (losskakel) en Banele Mthenjane (stut) is vir môre se stryd beskikbaar nadat hulle diens vir die SA Skolespan gedoen het.

Monnas se Morné Brandon (haker) en Christen van Niekerk (slot) was ook in die o/19-internasionale reeks teen Engeland, Frankryk en Wallis betrokke.

Stephan se skopskoen sal ‘n beduidende rol speel en dit sal ‘n stryd tussen die twee hakers, SP Muller (NHS) en Morné wees.

NHS het in 1972 die administra-teursbeker, soos dit vroeër bekendgestaan het, met Afrikaans Hoër Seunskool gedeel. In 2014 het die Rhinos vir die eerste keer in 25 jaar tot die Beeld-trofee deurgedring en die Garsie-Bere naelskraaps 20-19 geklop.

“Ons het baie respek vir Monument. Ons fiksheid en kondisionering was deur die seison goed gewees en ons het hard geoefen om die eindstryd te haal. “Dit is ‘n voorreg om op ons tuisveld te kan speel en ons gaan dit nie vir Monnas maklik maak om weg te wen nie,” het die kaptein, SP gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button