Local sportSport

Gholfspeler kies om droom na te jaag

Mpumalanga se junior gholfspeler van die jaar, Ruan Groenewald (18) het aan die begin van 2017 seker een van die grootste besluite van sy lewe geneem. 

Hy het skool verlaat om sy droom na groter hoogtes te neem.

“Ek is glad nie spyt oor my besluit nie. Ek is so passievol oor die sport en dit is waarvoor ek lief is.”

Ruan se pa, Charl het vir Suid-Afrika gholf gespeel, maar is sewe jaar gelede in ‘n motorongeluk oorlede.

“Ek het my liefde vir gholf by my pa geërf. Ek kon al op die ouderdom van drie ‘n stok vasgehou het, waar ek albasters as balle gebruik het.”

Ruan Groenewald.

Die voormalige leerder van Hoërskool Nelspruit het in Ermelo grootgeword waarna die Groenewalds in 2013 na Mbombela verhuis het.

Ruan het in 2014 net vir die lekkerte gholf gespeel en dit was eers in 2015 waar hy aan sy eerste amptelike toernooi deelgeneem het.

Hy speel tans in die IGT-uitdaag-toernooi.

Die 18-jarige was deel van die SA o/19-span wat op Langebaan in die Wes-Kaap in aksie was.
Daar het hy rondes van 72, 67, 72 en 69 gespeel om agt onder baansyfer te eindig. Hy het algeheel sesde gekom.

Hy is tans eerste op die Mpumalanga-punteleer met ‘n hou-gemiddeld van 69,5. Hy het op ‘n 6 voorgee begin en speel tans van ‘n +2 af.

Ruan Groenewald.

Laevelder het hom gevra wat die toekoms vir hom inhou.

“Ek hoop om volgende jaar in die Sonskyntoer te speel en die jaar daarna in die Challenge Tour. Daar sal ek in die top-15 moet eindig om op die Europese Toer te kan speel. En hopelik oor ‘n paar jaar blaf ek saam met die groot honde op die PGA-toer.”

Ruan neem tot en met Maart 2018 aan 18 toernooie deel, voor hy vir sy toerkaart wat op Fire Thorns-gholfklub beslis word, speel.

2017 se hoogtepunte
• Mpumalanga se gholfspeler van die jaar
• Laeveld junior speler van die jaar
• Jock of the Bushveld-kampioen
• Witrivier-opekampioen
• Mpumalanga se junior opekampioen
• Hoëveld se junior opekampioen
• Middelburg se junior opewenner
• Witrivier Buiteklub se klubkampioen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button