Tennisspanne verdedig hul titel
Die Laeveld se Interdistrikte-tennisspanne het na afloop van die toernooi teen Wes-Mpumalanga en Hoëveld gewys dat die plaaslike spelers se tennis witwarm is.

Verlede jaar was die eerste keer sedert 2004 wat die Laeveld algeheel eerste geëindig het en hulle het vanjaar weer met die wentrofee teruggekeer.
Die o/13’s, o/15’s en o/18’s het goud verower. Die o/11’s het ‘n derde plek behaal. In 2016 het die o/13’s en die o/15’s eerste plekke behaal.
“Dit is voorwaar vir ons as Laeveld ‘n groot trots en eer om vir die tweede agtereenvolgende jaar te kon wen. Die Laeveld se tennis is besig om goed op dreef te kom en dit kan aan harde werk en toewyding van die afrigters, spelers en ouers toegeskryf word,” het Annelize Oosthuizen van Laeveld-tennis gesê.
Laeveld het met 108 wedstryde gewen, gevolg deur Hoëveld met 79 wedstryde en Wes-Mpumalanga met 78 wedstryde.








