Kallis kry ‘n kolhou op Kambaku by Novasun Gholfdag
Sakelui vanoor die land, asook voormalige Protea-krieketspelers, het verlede Vrydag aan Novasun se jaarlikse gholfdag in Komatipoort deelgeneem.
Die vreugdevure het Vrydag hoog gebrand op putjie 8 toe voormalige Protea-krieketspeler Jacques Kallis sy heel eerste kolhou tydens Novasun se jaarlikse gholfdag in Komatipoort aangeteken het.
Kallis, wat in 2013 uit beroepskrieket getree het, is ook ‘n kranige gholfspeler met ‘n voorgee van twee.
Sy voormalige spanmaat, Mark Boucher en Dan Nicholl, ‘n Supersport-geselsprogamaanbieder, seremoniemeester en aanbieder van verskeie nasionale en internasionale toernooie, was ook spesiale gaste.

Nicholl het ook as seremoniemeester by die prysuitdeling opgetree.
Verskeie invloedryke sakelui vanoor die land het die dag bygewoon en die gesellige, ontspanne atmosfeer geniet.
Spelers het deeglik met Komatipoort se hitte kennis gemaak, maar dit het hulle nie verhinder om ‘n potjie heerlike gholf te geniet nie.
Die spelers het 15 putjies in ‘n beterbalkompetisie by Kambaku Gholfklub gespeel, waarna hulle die spel by Novapark, Novasun se pragtige drieputjiebaan afgesluit het. Die prysuitdeling is ook hier gehou.
LEES: Gholfspelers troef sterk winde om kleuterskool te ondersteun
Charlie van Dyk en Kallis het die eerste plek behaal, terwyl Harry van Dyk en Boucher die tweede plek losgeslaan het.
Die langste dryfhou vir die mans is deur Henk de Kock, en vir die dames, deur Kara Treherene geslaan. Die naaste aan die pen was Shaun Seelinger.

‘n Plaaslike jong man, Sammy Qcoli het ook tydens die geleentheid sy dank en waardering teenoor Nico du Plessis en die Van Dyk-familie betuig vir hul ondersteuning tydens sy skoolloopaan en studies, asook vir die belangrike rol wat hulle in sy lewe gespeel het.
Afslaer Banie Girun het die veiling behartig waarop verskeie waardevolle items, soos geraamde en getekende fotos van die rugby-wêreldbeker in 1995, Tiger Woods, die Blitsbokke en ‘n Bafana Bafana-trui, wat deur die hele span geteken is, onder die hamer gekom het.
LEES: Gholfdag versterk gemeentekoffers
Daar is ook gebie op ‘n geleentheid om saam met Kallis, Boucher en verskeie ander persoonlikhede die Saterdag ‘n potjie gholf te speel.
Alle fondse wat ingesamel is, gaan vir die instandhouding van Kambaku Gholfklub se baan aangewend word.
