Adrenalien-junkie oorwin uitdagende 50km resies in KZN
Vyftig kilometer se draf, klouter en klim in die Koninklike Natalse Nasionale Park sit nie in elke ou se broek nie, maar die ervaring was op Komatipoort-atleet Martin van Gass se emmerskoplys.
Komatipoort-atleet Martin van Gass het die afgelope naweek aan die Old Mutual Wild Series se Mont-Aux-Sources 50km Extreme Challenge in die park, wat teen KwaZulu-Natal se grense met Lesotho en die Vrystaat geleë is, deelgeneem.
Martin was 78ste uit 308 deelnemers in ‘n tyd van 07:42.
“Ek’s ‘n extreme endurance junkie en hou van wedlope wat jou liggaam en gees druk tot waar jy voel jy nie meer kan nie. Dis my drug,” vertel hy.
Die Mount-Aux-Sources roete bestaan uit uitdagende bergklim-paadjies, stofpaaie, kronkels en kettinglere en die Tugelarivier.
Die atleet vertel dat hy gereeld veldwedlope ná die Comrades-marathon doen om hom sterker en fikser te maak.
“Toe ek ‘n oproep kry van Wild Series SA wat sê daar is ‘n inskrywing beskikbaar, toe kon ek nie nee sê nie,” vertel hy.
Die atleet het die uitdaging aangepak as ‘n oefenloping en om dit soveel as moontlik te geniet.
LEES: Fietsryer presteer in uitdagende 361km-wedren
Hy verduidelik dat die moeilikste deel van die wedloop die stuk vanaf die Sentinel se parkeerterrein tot bo by die kettinglere was. “Die grondpad boontoe is net breed genoeg vir een persoon. Jy het ‘n reguit berg aan jou linkerkant en ‘n afgrond van honderde meter aan jou regterkant.
“Jy moet absoluut honderd present fokus en konsentreer op die pad, want jy’s sentimeters van jou dood af.
“As jy die kettinglere uitgeklim het, is jy bo-op die berg en het jy reeds 3 100 meter geklim. Jou longe, jou bene, als brand en pyn. Jy klim af deur die berugte Gully – ‘n ongelooflike styl afgrond wat net uit los klippe, stof en ‘n paar graspolle bestaan.

“Dis so moeilik dat die reddingswerkers ‘n tou langs die berg af moes vasmaak sodat jy daaraan kan vashou vir ekstra ondersteuning.
“Wat dit so erg maak is dat jy al klaar moeg is en jou konsentrasie nie meer so skerp is nie. Een gly van jou voet of een verkeerde berekening en jy tuimel berg-af tot jou dood.”
Dit is darem nie die heeltyd teen die dood stry nie. Martin meen dat die uitsigte asemrowend mooi is. “Jy kan nie vir iemand beskryf hoe mooi dit daarbo is nie. Dis net berge op berge, kilometres ver. En die watervalle wat ons kon sien! Dit was ongelooflik.” Sy ander gunsteling deel van die resies was toe hy oor die wenstreep is.
Martin vertel dat trail runners meer ontspanne is en na wedlope saamkuier. “Niemand vra jou oor jou tyd nie. Hulle praat oor hoe hard jy geval het en hoe moeilik dit was. Tyd is ‘n bysaak. Dit gaan oor die belewenis. Ek het al baie vriende so ontmoet.”
Martin se vrou, Mari, het saamgegaan om hom te ondersteun en het dit ook baie geniet.

Die atleet is tans besig om die 100km Sky Run in November te oorweeg, maar sal dit dalk moet misloop om vir die Comrades te kwalifiseer. “Volgende jaar gaan ek meer ultraveldwedlope in my program inwerk. Ek sal vir seker volgende jaar weer die Mont-Aux-Sources wil doen.”
