Skuts laat die skote spat vir Lareine
‘n Klein, maar entoesiastiese groep mense het op 16 September by die Elsjan Skietbaan naby Komatipoort aan pret-skietaktiwiteite deelgeneem ten bate van die Liefde vir Lareine-fonds.
Oud en jonk het op 19 September dit geniet om by die Elsjan Skietbaan naby Komatipoort in kompetisies mee te ding, soos om met windbukse na ballonne en kleiduiwe te skiet, als ten bate van die Liefde vir Lareine-fonds.

Daar is nie volgens die beste punte gewerk nie. Almal het ‘n gelyke kans gestaan om iets te wen en daar is ook ‘n gelukkige trekking gehou.
Die groep was in ‘n baie gesellige stemming en sommige van die jonger garde het nogal verras met hul vaardigheid.
‘n Prysuitdeling is na ‘n paar rondes se geskiet gehou en toe is daar saam gebraai terwyl die kleingoed op die springkasteel baljaar het.

Die geld wat vir die Liefde vir Lareine-fonds ingesamel is, sal gebruik word om Lareine Carstens se behandelings te betaal. Sy het Prader-Willisindroom, ‘n afwyking wat veroorsaak dat sy altyd honger voel.
LEES: Fondse nodig om dogtertjie te help kommunikeer
Alwin en Paula Carstens bedank al die borge wat bydraes gelewer het, die deelnemers en almal wat al hul fondsinsamelingsprojekte ondersteun het.
