Nellies het duidelik vinne, nie voete nie
Laerskool Nelspruit se Jodi Dos Santos en Janco Rademeyer is tydens die skool Vodacom Interhuisswemgala as die senior victrix en victor ludorum aangewys.
Hoewel die donker onweerswolke op die horison gedreig het, het dit nie Nellies se swemmers gekeer om ‘n reusesukses van die dag te maak nie. Daar was altesaam 103 swemmers wat die water aangedurf het.
Twee nuwe rekords is in die dogters o/11 se 50m-rugslag en 50m-vlinderslag – albei deur Jodi – opgestel.
Haar nuwe tyd in die rugslag is 38,83sek. Die vorige rekord was 39,46sek.
Sy het ‘n tyd van 36,62sek in die vlinderslag losgeswem (vorige rekord was 38,56sek).
“Groot waardering vir Vodacom Mpumalanga vir jul getroue ondersteuning met die titelborgskap van Laerskool Nelspruit se interhuisgala. Dankie vir die lojale verhouding tussen Nellies en Vodacom die afgelope paar jaar,” het die bemarking- en mediabeampte van Nellies, Johan Orton gesê.
Toekennings
Beste prestasie van die dag
• Junior dogter – Zoë Cilliers
• Junior seun – JP Snyman
• Senior dogter – Milche Mulder
• Senior seun – Janco Rademeyer
• Junior victrix ludorum – Zoë Cilliers
• Junior victor ludorum – JP Snyman
• Senior victrix ludorum – Jodi Dos Santos
• Senior victor ludorum – Janco Rademeyer.

