Nellies se o/12’s is provinsie se beste
Laerskool Nelspruit se o/12-dogters-hokkiespan is die nuutgekroonde Mpumalanga-kampioene nadat hulle in die eindstryd met Laerskool Middelburg met 4-0 afgereken het.
Die o/13’s het ook na die finale ronde deurgedring waar hulle die trofee met Uplands Preparatory deel. Die eindtelling was 2 elk.
Nellies se o/11-span het algeheel vyfde geëindig. Mpumalanga se top-12-spanne was die afgelope naweek op Uplands College se AstroTurf in aksie. Die o/12’s het in die eerste poelwedstryd teen Middelburg te staan gekom. Die finale telling was 3-1 in Nellies se guns. Daarna het die dogters hulle wedstryde teen Laerskool Pionier (1-0), JJ van der Merwe (4-0) en Kragbron (2-0) gewen.
Nellies se o/13’s, wat in 2015 as Mpumalanga se beste gekroon is en verlede jaar die wentrofee met Pionier gedeel het, se kragmeting teen Uplands Prep was ‘n naelbyter.
‘n Strafdoelstryd tussen Nellies en Uplands Prep het plaasgevind om te bepaal wie na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deurdring. Nellies het in agt sekondes die strafdoelstryd met 1-0 gewen.
So het Nellies se o/13’s gespeel
• Nellies 6 vs. Middelburg 0
• Nellies 4 vs. Goedehoop 0
• Nellies 2 vs. JJ van der Merwe 2
• Nellies 3 vs. Kragbron 0.
Albei die o/12- en o/13-spanne was die afgelope naweek by die Noordwes Skole-uitdaagtoernooi by Pukke in aksie gewees.


