Volgende twee wedstryde van kardinale belang
Die Steval Pumas moet hul oorblywende twee Curriebeker-kragmetings, vandag teen die Tafel Lager Griekwas en volgende week teen die Vodacom Blou Bulle wen, om in die uitspeelrondes van dié reeks deur te dring.
Die Xerox Goue Leeus, beklee die vierde plek op die punteleer met 25 punte en die Pumas in die vyfde plek met 24 punte. Die Johannesburgers kom môre teen die Westelike Provinsie (tweede, 32 punte) te staan. Mits die Leeus die kragmeting Sondag op Emirates Airline Park verloor, kan die Pumas moontlik in die top vier eindig.
Die Pumas, wat die afgelope naweek ‘n loslootjie gehad het, moet vandag sonder hul staatmakers Lambert Groenewald en Mark Pretorius te staan kom.
Pretorius het sy agterdyspier teen die Westelike Provinsie geskeur terwyl Groenewald las van ‘n skouerbesering het wat hy ook teen die WP opgedoen het.
Haker, Marko Janse van Rensburg is terug in die beginspan met Frank Herne, wat teen die Cheetahs in die begin 15-tal was, terug na die bank toe skuif.
Francois Kleinhans, wat harsingskudding in die Pumas se oorwinning oor die Blou Bulle opgedoen, kan moontlik van die plaasvervangersbank af op agtsteman begin.
Daar is nog onsekerheid oor Reynier van Rooyen en Theo Marais wat as Stefan Ungerer (skrumskakel) se plaasvervanger sal opdraf.
Die twee spanne het mekaar laas op 20 Augustus op Tafel Lagerpark mekaar die stryd aangedruf met die besoekers wat met 27-21 aan die wenkant was.


