Hartklop van Pumas-rugby
Operasionele bestuurder van die Steval Pumas, Marius van Rensburg het rugby gespeel en afgerig, maar sy passie vir die sport gebeur als van die veld af.
Aan die einde van 2017, sal Marius nege jaar deel van die Pumas-familie wees.
In 2004 het Phil Pretorius, wat tans die direkteur van die Czech Nasionale Rugby Unie is, hom gevra om by die SWD Arende se professionele span betrokke te raak. Marius is as dié unie se heel eerste prominente bestuurder aangestel. Hy was vier jaar by die span betrokke.
Hy het aan die Paarl Dendermonde Hoërskool matrikuleer waar hy senter en vleuel gespeel het. Na skool het hy ‘n bestuurskursus by Damelin Kollege voltooi en hy het ook vir die Crusaders-rugbyklub uitgedraf.
Voordat hy by die Arende betrokke geraak het, was hy ‘n verspreidingsbestuurder by ‘n maatskappy in die Wes-Kaap.
Aan die einde van 2008 het hy as spanbestuurder by die Pumas, toe Johann van Riebeeck Stadion in Witbank nog die span se tuisveld was, begin.
“Ons eerste wedstryd van die seisoen was teen die einste SWD. Rustyd het ek so ewe in die Arende se kleedkamers ingestap. Die spelers het my net so gekyk toe ek besef ek is in die verkeerde span se kleedkamer,” vertel hy met ‘n glimlag.
Hoe het die geleentheid by die Pumas jou tebeurt geval?
“Die SWD het ‘n wedstryd teen die Pumas gespeel. Daardie aand het ek vir Jimmy (Stonehouse) ontmoet en hy het my gevra om saam met hom die span te bou. Ek is glad nie spyt oor my besluit nie. Dit was die beste besluit wat ek geneem het. As ek terugkyk van waar ons begin het en waar ons nou is…daar is nie ‘n beter gevoel nie.”
In sy nege jaar sonder hy spelers soos Faf de Klerk (Sale Sharks), Vincent Koch (Saracens), Corné Fourie (Leeus), JC Roos (Canon Eagles), Renaldo Bothma (Blou Bulle), Rosko Specman (Blitsbok), Giant Mtyanda (Sharks) en Uzair Cassiem (Cheetahs).
“Hulle het almal by die Pumas begin en het as beter spelers hier uitgestap. Maar as ek een speler moet uitsonder, sal dit Corné (Steenkamp) wees. Hy was nie net ‘n goeie speler nie, maar hy is ‘n goeie mens van die veld af. Hy is ‘n goeie leier.”
Hy dink aan die Curriebeker Eerste Divisie eindstryd in 2009 toe die Pumas die SWD met 47-19 afgeransel het.
“Toe ek by die Pumas saam met Jimmy begin het, het ons ‘n drie jaar doelwit vir onsself gestel om te kwalifiseer om in die Curriebeker Premierliga te speel. In 2009 het ons net een wedstryd verloor en aan die einde van die Curriebeker as oorwinnaars uit die stryd getree. Ons het ‘n promosie-relegasie wedstryd teen Boland gespeel waar ons na die premierliga opgeskuif het. Drie jaar het een jaar geword.”




