Jong uithourit-ruiter skof stof in die oë van ouer mededingers
Pa en seun ry saam tydens die jaarlikse Nasionale Uithourit-kampioenskappe in Heidelberg.
Ewen Mellet van Lydenburg is, nes sy pa, ‘n kranige uithourit-ruiter. Hy het op 7 Oktober Mpumalanga by die Nasionale Uithourit-kampioenskappe in Heidelberg verteenwoordig.
Ewen se pa is Jakkie Mellet wat in Augustus derde gekom het in die Mongol Derby in Mongolië.
Tydens dié kompetisie het Ewen stof in die oë van verskeie ruiters van regoor die land geskop en ‘n algehele sewende plek behaal.
Lees meer: Jong ruiters skrik nie vir hoogtes
Louné Mellet, Ewen se ma, het aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel dat hy drie 80km-uithouritte gedurende die jaar in goeie tye moes aflê om vir dié byeenkoms te kon kwalifiseer.
“Omdat Ewen nog nie 13 jaar oud is nie, moes Jakkie hom tydens die kompetisie vergesel. Hy het nietemin ‘n sewende plek behaal met ruiters wat van regoor die land deelgeneem het.”
Volgens Louné volg hy beslis in sy pa se voetspore en neem hy reeds van agtjarige ouderdom kompeterend aan uithouritte deel.
“Daar was drie bene tydens die rit. Die eerste een was 40km, die tweede 30km en die laaste een 10km. Die roete was oor en tussen berge en om ‘n dam.”
Jakkie het gesê dat die een opdraande baie misleidend was en dat dit gevoel het asof dit nooit ophou nie.
Lees meer: Meisie breek neus toe perd haar afgooi
Uithouritte gaan uit en uit oor jou perd se welstand. Perde is dubbelpotig en dus moet hulle passies tydens ritte afgewissel word.
“Deelnemers moes met die opening ruiterkuns doen. Dit was moeilik omdat Ewen nie dresseerwerk doen nie. Nietemin het hy ‘n bonuspunt daarvoor verwerf.”
Perde word tydens die rit ook streng deur veeartse ondersoek. Die gesondheid en welstand van die diere kom eerste in dié sportsoort.
Lees meer: Op die spoor van die perde van weleer
Louné meen dit is ‘n lekker familiesport. “Almal help om die perd se boude te vryf om krampe te voorkom en na die tyd is daar natuurlik lekker gekuier.”
Ewen is die enigste ruiter van Lydenburg wat aan die rit deelgeneem het.
