OPVOLG: Nellies, Laeveld in Mpu-finaal
Dit is 'n reuseprestasie en die gemeenskap word uitgenooi om die kragmetings by te woon.
Ses Laeveldse krieketspanne meet vandeesweek in die Mpumalanga Grootskole Krieketfinaal kragte vir die gesogte titel.
Dit is ‘n reuseprestasie en die gemeenskap word uitgenooi om die kragmetings by te woon. Twee spanne van Laerskool Laeveld en vier van Nellies hou hulle skole se name in Mbombela hoog.
Die spanne van Laerskool Laeveld wat deugedring het, sluit die o/11’s en o/13’s in. Laasgenoemde het op eie bodem, Maandag reeds in die eerste eindstryd teen Nellies te staan gekom. Nellies het hulle met vyf paaltjies geklop. Laeveld se o/11’s kom vandag in ‘n wegwedstryd teen Nellies op hul tuisvelde te staan.
More than able to carry his high expectations
Nellies se ander twee spanne, die o/10’s en die o/12’s, kom onderskeidelik vandag teen Kruinpark en móre teen Goedehoop te staan. Albei dié wedstryde word op Nellies se eie velde gespeel.
Dit is die eerste keer in Nellies se geskiedenis dat al vier die spanne wat aan dié liga deelneem, tot die eindstryd deurdring.
Die o/10’s het verlede Dinsdag teen Laerskool Kragbron met 97 lopies gewen. Nellies het 121 vir die verlies van ses paaltjies in die toegelate 25 beurte gemoker. Nelspruit het Kragbron uitgeboul vir 24 in 11,3 beurte en het die wedstryd met 97 lopies gewen.
Lees ook: Laevelders gee voorsmakie van wat nog voorlê
Die o/11’s het Woensdag teen Laerskool Klipfontein gespeel en hulle met 70 lopies geklop. Na ‘n goeie kolfbeurt kon Nellies daarin slaag om 155 lopies vir die verlies van vier paaltjies in hul toegelate 30 beurte op die telbord te sit. Klipfontein is almal uitgehaal vir 85 lopies.
Die o/12’s het Donderdag deurgedring toe hulle vir Laerskool Kragbron met vier paaltjies geklop het. Wat die oorwinning so spesiaal maak, is dat Kragbron vier Mpumalanga spelers in die span het. Kragbron is eerste ingestuur en na uitstekende boulwerk van die Nellies is Kragbron uitgehaal vir slegs 77 lopies. Nellies het die telling verbygesteek met nog vier paaltjies staande.
Nellies se o/13’s het gesorg dat hulle dit vier uit vier maak nadat hulle Sondag vir Laerskool Goedehoop met 35 lopies geklop het. Goedehoop het uitstekend geboul en ‘n driekuns behaal om die Nellies in ‘n benarde posisie op 43 lopies vir die verlies van vier paaltjies te plaas. Luann Strauss het vasgebyt en 58 lopies aangeteken van 85 balle. Laerskool Nelspruit het uiteindelik 131 lopies in hulle 30 boulbeurte aangeteken.
Laerskool Goedehoop het hul bes probeer, maar die gedissiplineerde boulwerk van die Nellies was te veel en hulle laaste paaltjie het geval met hulle telling op 97 lopies.
Wat Laerskool Laeveld se verhaal betref, het hulle o/11’s verlede Dinsdag teen Laerskool Kruinpark te staan gekom. Kruinpark het eerste gekolf nadat hulle die loot gewen het. Hulle het stadig begin en was op ‘n stadium 14 vir vier. Kruinpark se vierde kolwer, het standvastigheid gebring en ‘n briljante 45 geslaan voordat hy uitgevang is deur Laeveld se Cian Maritz.
Laeveld se uitblinker-bouler was beslis Malan Broodryk wat ‘n skitterende ses paaltjies geneem het, waarvan vyf skoon geboul is. Hy het geëindig met ses paaltjies waarvoor hy slegs 31 lopies afgestaan het. Laerskool Kruinpark eindig op 112, almal uit.
Laeveld se kolfbeurt het soortgelyk begin en ook vinnig paaltjies verloor. Christian Taljaard wat geopen het, het 21 geslaan voor hy uitgevang is. Malan Broodryk het goed gedoen met die kolf ook waar hy 23 geslaan het, nie uit nie. Hy en Schalk Kruger het die wenlopies geslaan. Laerskool Laeveld het met twee paaltjies gewen en speel dus in die Mpumalanga-eindstryd. Laeveld se o/13’s het Donderdag teen CR Swart gespeel en met 95 lopies gewen.
