Plaaslikes blink uit tussen 2 260 atlete
Selfs 'n plek onder die eerste 10 atlete, kan as 'n puik prestasie beskou word.
Die jaarlikse Top 30-skoleatletiek-byeenkoms wat die afgelope naweek in Potchefstroom gehou is, sal voorwaar onthou word as ‘n byeenkoms van geskiedkundige vertonings, en Nellies se atlete het gewis ‘n groot aandeel daarin gehad. Met ‘n deelnemertal van 2 260 atlete, is hierdie byeenkoms die grootste van sy soort in die land. In talle items was daar meer as 40 atlete wat om podiumplekke meegeding het. Selfs ‘n plek onder die eerste 10 atlete, kan as ‘n puik prestasie beskou word.
Beide die seuns en die meisies moes in die A-afdeling teen die sterkste skole meeding. Die seuns (sewende uit 24 spanne) het hierdie keer die bordjies verhang en ‘n beter posisie as die meisies (14de) ingeneem.
NHS se span het gesamentlik 12de geëindig. Die seuns het onder andere met Klerksdorp, Vorentoe, King Edward, Waterkloof, Potch Gimnasium, Noordheuwel en Kempton Park afgereken. Onder die meisies se slagoffers, het skole soos Vorentoe, Monument, Waterkloof, Wesvalia en Eldoraigne getel.
Daar was verskeie skitterende vertonings deur NHS-atlete, maar die name van Douw Kruger, Devon Nell en Van Reenen Kruger verdien vir seker elk ‘n ereplek op die lys van uitsonderlike en geskiedkundige prestasies. Douw (seuns o/15) het die eerste Laeveld-seun geword wat as 15-jarige, die 4kg-gewig verder as 18m kon laat grondvat – ‘n afstand wat aan hom die magiese voltal van 1 200 punte op die ABSA-tabel besorg het. Sy nuwe Nellie-rekord staan nou op ‘n ongelooflike 18,64m wat sy vorige beste afstand met 65cm getroef het. Douw se gesogte eerste plek het hom in ‘n klas van sy eie geplaas, met Klerksdorp se Juan Oosthuyzen (16,56m) in die tweede plek.
Devon (seuns o/16) het die vorige week op Mookgophong die Nellie-rekord in die 400m-hekkies na 55,72 sekondes verbeter.
Te midde van uiters strawwe kompetisie, het Devon daarin geslaag om weer eens die rekordboeke te herskryf. Sy wentyd van 55,21sek is werklik fenomenaal vir ‘n 16-jarige. Die 14-jarige Van Reenen het op sy beurt, die eerste NHS-seun in die skool se roemryke geskiedenis van 65 jaar geword, wat die 100m-hekkies (vir seuns 14) onder 14 sekondes kon aflê. Sy tyd van 13,97 (hy was sesde) oortref Zandré Kruger se 14,09 wat sedert 2011 in die rekordboeke gepryk het. Van Reenen het voorts ook ‘n rekordtyd van 40,90 in die 300m-hekkies aangeteken.
Die meisies het ook vir vier splinternuwe Nellie-rekords gesorg: twee in gewigstoot, en twee in die 3 000m. Na haar puik skyfwerp-prestasie die vorige week, het Shana Scott (meisies o/14) daarin geslaag om Natasha Brown se rekord van 11,81m (gewigstoot) met ‘n baie goeie stoot van 11,86m haar eie te maak. Christine Kruger (meisies 15) se 12,56m (ook gewigstoot) was 2cm verder as die vorige rekord wat deur Cor-Mari Oliver (2012) gehou is. Die juniors het ook in die 3 000m geskitter toe Wilmi Basson (meisies o/14) eers Leonine Gildenhuys se rekord van 12:36,44 afgebring het na ‘n uitstekende 11:52,25. Daarna het Mila de Villiers (meisies o/15) met haar pragtyd van 11:47,06 ook Mia Erasmus se vorige rekord van 12:03,25 laat spat.
Plaaslike filmster bekroon as fliek-akteur van die jaar
