Spelers geniet ‘n middag om die jukskeibaan
Groot opgewondenheid het langs die baan geheers toe spanne van twee en later vier met skeie in die hand hulle vernuf op die proef gestel het.
Inwoners van Bateleur Landgoed het die nuwe jukskeiseisoen Vrydag met groot geesdrif geopen deur ‘n paar vriendelike rondes te speel.
Volgens Hans van Coller, een van die inwoners, kan spangroottes wissel afhangende van die getal spelers wat deelneem. “Dis ‘n spel wat nie té fisies is nie, maar tog goeie oefening bied en ons in staat stel om gesellig te verkeer,” het hy gesê.
Die dag is georganiseer met die hoop dat meer inwoners van die landgoed sal aansluit by die handjievol wat getrou elke Woensdagmiddag die jukseitradisie lewendig hou.
Lees ook: Jukskei by Bergvlam

“Ons het bykans 200 mense genooi om te kom speel of sommer net lekker saam met ons langs die baan te kuier,” het organiseerder Almarie van Rooyen gesê.
Jukskei is ‘n tradisionele boeresport wat in 1743 in die Kaap ontstaan het toe transportryers die skeie wat op osse gebruik is, na ‘n pen in die grond gegooi het. Die spel is ook later tydens die Groot Trek as deel van die daaglikse tydverdryf gespeel.
In 1939, met die vorming van die eerste Boererepublieke, is die reëls vasgelê en word dit vandag nog daarvolgens gespeel.
Lees ook: Vlammies blink uit
In 2001 is die sport ingesluit by die inheemse speleprojek wat deur die regering van stapel gestuur is en van toe af het dit ‘n oplewing onder oud en jonk beleef.
Tans word ‘n nasionale jukskeitoernooi jaarliks op Kroonstad gehou. Die spel word ook in Namibië en die VSA gespeel met dié drie lande wat lede is van die internasionale jukskeifederasie.
Die doel van die spel is om ‘n pen wat in ‘n sandpit sowat 11 tot 16 meter ver geplant is, afhangende van die ouderdom en geslag van die spelers, om te gooi.
Punte word aangeteken deur of die pen om te gooi, of ‘n skei so na as moontlik aan die pen te laat val. Die speler wat eerste 23 punte behaal, wen.
“Ons wil regtig die jukskei hier op Bateleur weer goed aan die gang kry en belangstelling onder ons inwoners en mense van die dorp wek,” het Van Rooyen, self ‘n kranige speler, gesê.
Die jukskeibaan op Bateleur is twee jaar gelede geopen en is ontwerp deur een van die ou en mees ervare jukskeihande op die landgoed, Jan Combrink.
“Deur tyd om die baan deur te bring, kry ons almal kans om nuwe mense te leer ken en sommer net gesellig in die pragtige omgewing hier op Bateleur te verkeer. Maar moet my nie verkeerd verstaan nie, dis ‘n ernstige spel. Ons speel om te wen,” het Van Coller gesê.
“Die sport vereis dat ‘n mens goeie sportsmanskap aan die dag lê en vir baie van ons is dit ‘n goeie rede om in die buitelug te verkeer en ‘n bietjie te ontspan,” het van Rooyen gesê wat saam met haar man, Dirk die meeste Woensdae ‘n ronde of drie op die baan geniet.

Lees ook: Sportiewe Vlammies vereer
Daar is nie Vrydag wenners aangewys nie, want die doel van die dag was eerder om inwoners aan te moedig om by die sport betrokke te raak. Pauline van Coller het nietemin ‘n ete by Bateleur se restaurant gewen vir die beste ondersteuning en applous deur ‘n toeskouer.
Die spelers en toeskouers het ‘n glasie vonkelwyn en heerlike eetgoed geniet en sien uit na ‘n goeie seisoen van jukskei en hoop om teen die nuwe jaar nog ‘n paar gereelde lede in hul geledere te hê.
“Ons wil al die spelers hartlik bedank vir hulle deelname en ook vir die bestuur van Bateleur Landgoed wat so goedgesind was om vir ons ‘n plekkie beskikbaar te maak en die baan te laat bou,” het Van Coller gesê.
