Kambaku vier twee dekades se puik gholfspel
Kambaku Gholfklub in Komatipoort het verlede Saterdag hul twintigste bestaansjaar met 'n spesiale gholfdag gevier.

Daar is verlede Saterdag die hele dag feesgevier om Kambaku Gholfklub in Komatipoort se 20-jarige bestaan te vier.
Benewens stalletjies en ander vermaak is daar ook ‘n gholfdag gehou vir die komitee en klublede. Dit is afgesluit met ‘n spoggerige ete en prysuitdeling, en elke lid het ‘n spesiale gegrafeerde glas as aandenking ontvang.
‘n Koffietafelboek wat die ontwikkeling en groei van dié gholfbaan uitbeeld is ook tydens die geleentheid vrygestel.
LEES: Kallis kry ‘n kolhou op Kambaku by Novasun Gholfdag
Johan Maree, die huidige klubpresident, het die verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen en daarna was Gerhard Basson, die voormalige klubpresident en stigterslid, aan die woord.
Basson het vertel dat gholfspelers elke week 50km Malalane toe moes ry vir hul gunstelingtydverdryf – so het die begeerte vir ‘n plaaslike baan onstaan.
Die klub is amptelik op 20 Februarie 1997 gestig met Flip van Coller as die klub se eerste president.
Sonder ‘n begroting, finansies of ‘n projekbestuurder, is die baan deur ‘n groepie boere, sakemanne en gemeenskapslede met ‘n liefde vir die sport, ontwikkel tot vandag se gewilde en suksesvolle gholfbestemming.
Klubkaptein Piet van Dyk het met trots en dankbaarheid teenoor sy Skepper ‘n terugblik op Kambaku se 20 jaar gelewer. Hy het elkeen bedank wat ‘n bydrae tot die ontwikkeling van die klub gelewer het.
“‘n Gholfbaan is nooit klaar nie, dit groei en verander met die tyd. Die toekoms hou vir ons nog harde werk in. Ons werk hard daaraan om ons jeug te onwikkel en ons moet ‘n gholfbaan hê wat toekomsgerig is,” het hy afgesluit.
LEES: Kambaku se dames wys wie is baas
Die gholfdag se wenners was Johan en Ezile Basson met 48 punte, William en Connie Mundell in tweede plek met 43 punte en Harry en Piet van Dyk in die derde plek met 42 punte.
Cara Teheren het naaste aan die pen geslaan op putjie 8/16 en 18 en op 5, Danielle Bosch. Rose Powell en Mel Stronkhorst jnr. het die pryse vir die langste dryfhou ontvang.
Theo Stronkhorst het die hoofborg van die dag, Lebombo Dryport, asook Securicon Lowveld en almal wat tans help om ‘n besoek aan die klub besonders te maak bedank.
Harry van Dyk het genoem dat hy en van die stigterslede beloof het om die baan klaar te bou en dat gholfspelers ‘n 10de gaatjie te wagte kan wees in die toekoms.
