Louw-broers is Vlammies se trots
Na 30 jaar het Hoërskool Bergvlam 'n provinsiale rugbyspeler opgelewer.
Voormalige Bokafrigter en oud-Vlammie, Heyneke Meyer het in 1985 matrikuleer waar hy tot die Pumas se Cravenweekspan gekies was.
Hoofseun van Vlammies en sportman van die jaar, Tristan Louw (19) het die provinsiale droogte gebreek toe hy in 2015 vir die o/16 Grant Khomo-span gekies is.
Jaydan (18) het dieselfde passie vir sport as sy broer. Hy het ook sy skool op provinsiale vlak verteenwoordig.

Voorsitter van sport by Vlammies, Jaydan was deel van die Pumas Distriktespan vir o/16, en het gedurende die Julie vakansie vir die Pumas se o/19’s in die Pukweek in Potchefstroom uitgedraf.
Tristan was ook by die Pukweek in aksie en was as kaptein aangewys. Verlede jaar was hy deel van die Pumas o/18-akademiespan. Die 19-jarige het reeds in gr. 9 vir Bergvlam se eerste rugbyspan uitgedraf en het die laaste twee jaar die span aangevoer.
Jaydan was kaptein van die o/14- en o/15-rugbyspanne.
Rugby is nie die enigste sport waarin die twee uitblink nie. Hulle name is op die erebord in die krieketklubhuis gegraveer.
Die Louw-broers is albei in die provinsiale krieketspan opgeneem.
Tristan het sedert gr. 8 vir sy skool se eerste krieketspan gespeel en Jaydan het drie jaar terug by die span aangesluit.

Die twee vertel dat hulle liefde vir sport van hulle oupa af kom.
“Hy het rugby en krieket vir Zimbabwe gespeel. In 1968 was ons oupa deel van Rhodesië se toerspan wat op 3 Junie in Salisbury, Engeland ‘n wedstryd teen die Britsh Lions gespeel het. Hy het nou nog die program, spanfoto en spanlys. Ons hang aan sy lippe as hy oor daardie jare gesels.”
Albei broers gaan volgende jaar Pukke toe waar hulle onderwys gaan studeer. Hulle het koshuiskeuring by Veritas Manskoshuis gekry en hoop om binnekort deel van NWU Pukke se Varsitybekerspan te wees.

