NHS as naaswenners van Gunn & Moore-kompetisie aangewys
Hoërskool Waterkloof se eerste krieket-span is vir die derde agtereenvolgende jaar as die Noordvaal Gunn & Moore-kampioene gekroon nadat hulle Hoërskool Nelspruit (NHS) Saterdag op Uplands College se veld met 75 lopies geklop het.

NHS is almal vir 138 in die 38ste boulbeurt uitgehaal.
Kloof het die loot gewen en hul kolwers ingestuur om die bul by die horings te pak.
Die besoekers het goed begin, maar het hul eerste paaltjie, Ludwig Kaestner op 31 lopies verloor.

Jacques Vosloo (NHS) het van Jordan Hermann ontslae geraak om vir André Vosloo sy tweede vangkans van die dag te bied.
Met die val van Jandré Pretorius se paaltjie, was Kloof diep in die moeilikheid met 117 vir ses.
Die agtste paaltjie-vennootskap van 42 lopies tussen Nico van Zyl en Sean du Plooy het gesorg dat Kloof tog ‘n kans staan om die 200-merk te haal.
Soos verwag, het die plaaslike span se Ewan Lombard met bal in die hand uitgeblink. Hy het in 10 boulbeurte, twee paaltjies geneem en net 27 lopies afgestaan. Jon het ook met twee paaltjies agter sy naam gespog vir 46 lopies in 10 beurte.
NHS het Kloof op 213 vir nege in die toegelate 50 boulbeurte beperk.
In NHS se beurt, het Gideon Peters ‘n perfekte bal geboul om van Conrad Schultz ontslae te raak – paaltjiewagter van Kloof, Jandré het die bal na net vier lopies op die telbord, gevang.

Divan het 53 lopies van net 86 balle gemoker en sy spanmaat, Jon 27 lopies.
Jon het ‘n paar mooi houe geslaan om Kloof weer onder groot druk te plaas, maar die span van Pretoria se aflosbouler, Marco Boonstra het met die telling op 134/7 van Jon ontslae geraak.
NHS se laaste drie paaltjies het vir ‘n skamele vier lopies gekantel.

Die twee spanne het mekaar vroeg in Februarie die stryd aangesê met NHS wat met 46 lopies geseëvier het.
Foto’s: Riaan Swanepoel






