Blondekoppie ‘n hele paar medaljes ryker
Surané's Dansakademie se klein Tenei Stander het reeds vir die 2018 Suid-Afrikaanse Danskampioenskappe gekwalifiseer.
Tenei, ‘n gr. 2-leerder van Laerskool Laeveld, het vroeër vanjaar aan die SA kampioenskappe in Limpopo deelgeneem.
Sy het ‘n silwermedalje vir klassieke dans vir o/8’s om haar nek gehang asook ‘n vierde plek in die NRG-kategorie in die energiedans verower.
Die kampioenskappe bestaan uit twee kategorieë met vier verskillende dansstyle – klassiek (ballet, kontemporêr, jazz en ‘n Spaanse dans) en NRG (energie, bhangra, slow-style en hip-hop).
Tenei het die week net voor SA’s aan die Limpopo Danskampioenskappe deelgeneem. Daar het sy ‘n goue medalje in die jongmens o/8-klassiek, losgedans en het ‘n algehele derde plek in die jongmens energiedans-item verower.
“Jong. Sy was maar twee jaartjies oud. As sy op pad televisiekamer toe is, dans sy. As sy na haar kamer toe gaan, dans sy. Net daar en dan het ek besluit om haar na ‘n dansskool te neem,” het haar ma Genevieve vertel.
“Surané (Stapelberg) het aanvanklik gesê Tenei is te jonk, maar sy het gesê ek moet vir Tenei vir een klas bring en dan sal sy kyk. Na afloop van daardie klas, het Surané gesê, ‘Nee! Tenei gaan nêrens heen nie.'”
Tenei kyk glad nie televisie nie. Sy sit die CD-speler aan en dans die hele dag. As daar maats kom kuier, dan leer Tenei hulle ook sommer dans.
“Na ‘n rukkie roep sy ons om te kyk watter danspassies hulle uitgewerk het. ‘n Ding wat ek nie kan verstaan nie is dat sy so skaam is, maar sy dans voor honderde mense.”
Dié blondekoppie sien reeds baie na volgende jaar se SA’s wat by Sun City beslis word, uit.
“Ek wil vir altyd kan dans en sal graag eendag my eie dans-ateljee wil begin. My gunsteling-item is die energie-dans en nou dat daar ‘n skaatsbaan oopgemaak het, sal ek graag met kunsskaat wil begin,” sê Tenei.










