Local sportSport

Plaaslike spiertier verower drie titels in ‘n ry

Hoewel Van Tonder 'n krangie rugbyspeler van Nelspruit Rugbyklub is, sê hy dat hy in 2018 liewer op sy liggaamsbouloopbaan gaan konsentreer. 

Plaaslike spiertier Tjokkie van Tonder het die afgelope paar maande homself goed van sy taak gekwyt deur drie titels in ‘n ry te verower.

Dié jong liggaamsbouer het ‘n eerste plek in sy gewigsklas, 80 kilogram en onder, by vanjaar se Internasionale Federasie van Liggaamsbou en Fiksheid se provinsiale kompetisie vir die Gauteng-Noordstreek verower.

Vyf weke later het hy aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap wat in Witbank gehou is, deelgeneem en weer met die eerste prys weggestap.

Lees ook: Van Tonder raap gesogte rugbypryse op

Met dié twee titels agter sy naam was daar geen keer aan sy ywer nie en het hy ingeskryf vir die jaarlikse iCandy Classic wat begin November in Durban plaasgevind het.

“Die kompetisie was taai want baie van die manne in my gewigsklas het meer tyd gehad om voor te berei, maar ek is regtig bly om te kon gewen het,” sê van Tonder wat gaan probeer om volgende jaar aan meer kompetisies deel te neem en mootlik vir ‘n internasionale byeenkoms te kwalifiseer.

Lees ook: Liggaamsbouer steeds ‘n wenner

Garron Whitehead en Tjokkie van Tonder. Foto: verskaf

“Ek geniet liggaamsbou en dis ‘n baie goeie manier om my werk as persoonlike afrigter met my sport te kombineer, want ek is in elk geval in die gimnasium,” sê hy wat tans studeer om sy professionele kwalifikasie as persoonlike afrigter te voltooi.

“Ek oefen twee keer per dag, ses dae ‘n week, maar dis nie die oefening wat uithou verg nie. Die moeilikste deel van liggaamsbou is om die baie streng dieet te volg,” sê Van Tonder oor die dissipline wat dié sport verg.

Hy is van mening dat liggaamsbou ‘n wonderlike manier vir jong mans en vroue is om dissipline te leer en ‘n gesonde leefwyse te vestig.

Lees ook: Chemaly palm eerste titel vanjaar in

“Ek sal mense beslis aanraai om die sport te probeer, want ‘n mens leer baie oor gesond leef en om vir ‘n doelwit te werk,” sê hy oor die sport wat volgens hom tans al hoe gewilder word in Mbombela.

Ten spyte van sy goeie prestasies vanjaar sê Van Tonder dat hy weens die hoë kostes daaraan verbonde, in hierdie stadium nog nie ‘n volwaardige loopbaan van die sport kan maak nie.

“As ‘n mens al die gimfooie, vervoerkoste en dieetaanvullers self moet betaal, dan raak dit duur. Ek hoop dus om in die toekoms dalk ‘n borg of twee te kan kry om my by te staan,” sê hy.

Sedert die iCandy Classic wag hy om te hoor of hy vir die Arnold Classic Africa Kampioenskap wat in Mei 2018 in Sandton gehou gaan word, gekwalifiseer het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button