SA se topskut is ‘n produk van Vlammies
Hoërskool Bergvlam se Darno le Roux (16) is Suid-Afrika se topskut vir o/21-vrystaande pistoolskiet.
Wat dié 16-jarige se prestasie nog meer besonder maak, is dat hy eers in 2015 met prysskiet begin het.
“Ons sou een middag krieketoefening gehad het, maar dit was gekanselleer. Min het ek geweet die prysskietproewe word daardie selfde middag gehou. Een van my goeie vriende, JP Oberholzer het voorgestel dat ons sommer net vir die pret aan die proewe moet gaan deelneem. En wraggies! Daar haal ek die span.”
Darno is vir die tweede agtereenvolgende jaar vir die Mpumalanga-span gekies om sy vernuf by SA’s te gaan toets.
Gedurende die Oktobervakansie, het hy sy provinsie by die kampioenskappe in New Castle verteenwoordig.
Hy was Mpumalanga se tweede gekeurde skut. Na afloop van die kampioenskappe, was daar ‘n finale ronde waar die top-agt mekaar met ‘n pistool in die hand opgedreun het. Hier het hy sewende geëindig.
“Ek weet nie hoekom nie, maar ek het baie gestres. Almal staan en kyk vir jou,” vertel Darno.
“Wanneer ons klaar is met die dag se verrigtinge, kuier ons lekker saam. Ons speel sokker in die middel van die nag en gebruik lekkers om blackjack daarmee te speel.”
Darno oefen op hulle plaas. Hy gebruik leë verfblikke om seker te maak dat hy in die nabye toekoms perfekte kolskote kan skiet.

“Vlammies is een van min skole in die Laeveld wat die sport aanbied. Ek wil graag ook aan ander kompetisies begin deelneem soos boogskiet.”
Die agt Vlammies wat hulle provinsie by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe verteenwoordig het, is:
Pistool
• Darno le Roux
• Keke Makhubela
• Sean Cushway
• Jadon Labuschagne.
Sporter
• Leoné Pretorius
• Jacques-Louis Pretorius
• Petri Visagie
• Richo Visagie.

