Iza, Wilmien is Bergies se beste atlete
Vlugvoetige vleuel van Laerskool Bergland, Iza Sithole het verlede week tydens die skool se prysuitdeling, die trofee vir sportseun van die jaar ontvang.
Bergies se hoofdogter van 2017, Wilmien van der Merwe is as die sportdogter van die jaar aangewys.
Iza het sy skool op verskeie sportgebiede verteenwoordig. Hy was in aksie by die Obaro Interlaer-atletiekbyeenkoms. Hy het vir die eerste krieketspan gespeel en het ook Bergies se sokkerspan aangevoer.
Een van Iza se goue oomblikke was toe Bergland vir die derde agtereenvolgende jaar as die Mpumalanga-grootskolekampioene aangewys is, nadat hulle Laerskool Nelspruit met 17-10 in die eindstryd getroef het.
Iza was een van twee Bergland-spelers wat tot die Pumas se o/13-Cravenweekspan verkies is.
Spanmaat, Devandré Ginden het ook sy provinsie in die Rosestad verteenwoordig.
Lenige doel van Bergland, Wilmien is ook met die trofee vir die voortreflikste speler beloon. Nes Iza, was sy ‘n lid van haar skool se interlaeratletiekspan. Sy het aan die skool se swemgala deelgeneem en ook vir die eerste hokkiespan op die veld gedraf.

Vanjaar was sy as haar skool se eerste netbalspankaptein aangewys en is sy ook vir Mpumalanga se netbalspan gekies.
Wanneer Wilmien nie op die sportveld haar staal wys nie, is sy hard besig agter haar boeke en spog sy met ‘n akademiese prestasie van bo 80 persent.

