Juniors word bekroon vir diep spore wat hulle reeds trap
Laerskool Nelspruit het verlede week hulle junior atlete van die jaar vir hulle besonderse prestasies in die onderskeie sportitems vereer.
Zoë Cilliers het met die toekenning vir haar prestasie in swem, asook in atletiek weggestap.
Sy het aan die interhuisswemgala deelgeneem waar sy vyf goue medaljes losgeswem het. Sy het die toekenning vir die dogter met die beste prestasie vir die dag asook die junior victrix ludorum-trofee ontvang.
Zoë was by die topskolegala in aksie waar sy een vyfde plek, twee agtste, ‘n 11de en ‘n 13de plek behaal het.

Op die atletiekveld was sy deel van die skool se span waar sy aan die 60- en 80-meterwedlope deelgeneem het. Sy was ook lid van haar ouderdomsgroep se aflosspan.
Sy was by verskeie byeenkomste betrokke en het die seisoen deurgaans goeie prestasies behaal. Sy het onder andere ses eerste plekke en twee tweede plekke verower.
Tydens die Top 20-atletiek byeenkoms by Ruimsig, het sy 540 punte op Atletiek Suid-Afrika (ASA)se puntetabel, vir haar poging in die 80 meter vir o/9 agter haar naam ingeskryf.
Jonathan Vermaak het óók met twee toekennings weggestap.

Hy het die beste prestasie deur ‘n junior atleet asook die beste prestasie in atletiek ontvang.
Dié toekennings word bepaal deur die hoogste individuele punt op die ASA-tabel.
Hierdie atleet was deel van die skool se atletiekspan waar hy in die 60- en 80-meterwedlope weggespring het. Hy was deel van sy ouderdomsgroep se aflosspan.
Lees ook: Jong atlete spook dit uit op Laerskool Nelspruit se atletiekbaan
Na afloop van die seisoen, spog hy met onder andere vier eerste plekke en vier silwermedaljes om sy nek. Gedurende vriendskaplike byeenkomste, het hy 420 punte op die ASA-puntetabel in die 80-meter-item aangeteken.
Dié atleet het ook in landloop sy staal gewys. Hy het eerste plekke by Mbombela, Mankele en Curro Nelspruit se byeenkomste behaal. By die Mpumalanga-kampioenskappe was hy derde en was algeheel 47ste by die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskappe.
Toekennings
Swem
• JP Snyman en Zoë Cilliers
Atletiek
• Jonathan Vermaak en Zoë Cilliers
Landloop
• Jonathan Vermaak en Mieke Pauer
Skaak
• Mieke Pauer en Ude van Veenhuysen (die toekenning sal egter eers na afloop van die Suid-Afrikaanse junior skaakkampioen-skappe gegee word).
