Local sportSport

Meestersatleet berei voor vir internasionale byeenkoms

Komatipoort se meestersatleet, Agatha-Lee du Plessis is by die Suid-Afrikaanse span ingesluit wat in September aan die Internasionale Meestersatletiekbyeenkoms in Spanje gaan deelneem.

Daar is geen keer aan Agatha-Lee du Plessis, die 62-jarige ouma en onderwyser by Komatipoort Akademie, nie.

Sy is vir die Suid-Afrikaanse span gekies wat in September aan die Internasionale Meestersatletiekbyeenkoms in Spanje gaan deelneem.

Dié veteraanatleet het tydens die Meestersatletiekbyeenkoms by Groenpuntstadion in Kaapstad verlede jaar goue medaljes in hoogspring, verspring en die 100m, asook ‘n silwer vir spiesgooi ingepalm. Internasionale atlete van onder meer die VSA en Nieu-Seeland het hier deelgeneem.

LEES: Veteraan-atleet bring drie goues van SA’s huis toe

Sy het by die Gauteng-Noord provinsiale byeenkoms die hoogspringrekord vir die 2017 atletiekseisoen met 17cm verbeter en tydens die Rassie Erasmus-byeenkoms het sy die verspringrekord met 33cm verbeter.

Agatha-Lee du Plessis in aksie tydens verspring.

Tydens die Afrikaspele in Durban verlede jaar het sy Suid-Afrika verteenwoordig en is sy met twee goue en een silwermedalje beloon. Du Plessis was gekies om Suid-Afrika in Korea te verteenwoordig, maar kon as gevolg van ‘n tekort aan finansies dit nie bywoon nie.

LEES: Atletiese ouma steeds ‘n meester op veld en baan

Du Plessis het ‘n vol dag en werk nie volgens ‘n vasgestelde oefenprogram nie, maar net wanneer sy ‘n tydjie kry.

Du Plessis rig die laerskool se hoogspringatlete af, is afrigter vir die hoërskool se eerste seunshokkiespan, dien as busbestuurder na sportgeleenthede en is ook skoolfotograaf.

Sy het nie ‘n afrigter nie en oefen sommer so saam met die kinders.

Agatha-Lee na ‘n verspring-sprong tydens ‘n vorige byeenkoms.

Op ‘n vraag oor hoe sy toekomstige atlete sou motiveer, het sy die volgende geantwoord: “Vergeet daarvan om ‘n droom te hê. Net mense wat slaap, droom. Fokus op ‘n ideaal wat jy wil bereik. Jy moet jouself deur volharding voorberei op dit wat jy wil hê. Daar is baie oefenprogramme op die internet. Laat jou afrigter jou help. Moet nooit ‘n verskoning soek nie.

“Gebruik bakstene of klippe as jy nie gewigte het nie. Gaan draf in die oggende wanneer jou maats nog slaap of in die middae wanneer hulle voor die televisie lê. Miskien kom daar omstandighede wat jou wil laat moed opgee, vra vir die Here om jou daardeur te help – Hy sal.”

Komatipoort is trots op hierdie talentvolle atleet in hul midde en hou saam duim vas dat borge vorendag sal kom om haar deelname in Spanje te verseker.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button