Stonehouse terug by Pumas
Voormalige Pumabreier, Jimmy Stonehouse sal komende naweek deel van die jaarlikse Indaba-afrigtingskliniek wees.
Stonehouse het die Pumas tussen 2008 en 2015 gebrei waarna hy ‘n kontrak met die Japanse klub, Toshiba Brave Lupus gesluit het.
Die hoof- uitvoerende bestuurder van Mpumalanga Rugby-unie (MRU), Pieter Burger en Stonehouse het gister oor die pad vorentoe vergader.
Stonehouse behoort vroeg in Februarie amptelik by die Pumas te begin.
“Jimmy het die grondslag van die Pumas se sukses gelê. Die ervaring wat hy in Japan opgedoen het, is van onskatbare waarde,” het Burger gesê.
Stonehouse het onder meer spelers soos Richard Kahui en Liam Messam (albei All Blacks), Coenie van Wyk (voormalige Pumaspeler) asook Michael Leitch, wat Japan gedurende 2015 se Rugby Wêreldbeker aangevoer het, afgerig.
Voormalige Springbokspeler, CJ van der Linde, wat net vir die Curriebekerreeks as voorspelerafrigter aangestel is, sal nie meer by die span betrokke wees nie.
“Ons begroting laat ons nie toe om verder van CJ se dienste gebruik te maak nie. Hy het onsaglike waarde tot die span bygevoeg en ons sal graag in die toekoms wil kyk om hom weer te betrek.
“Wat finansies betref gaan hierdie seker een van die moeilikste jare, vir die Pumas wees. Dit sal volgende jaar beter gaan,” het Burger gesê.
Stonehouse bevestig terugkeer
Daar was geruime tyd bespiegelinge in die media oor sy terugkeer.
Stonehouse het vanoggend sy rol as direkteur van rugby van die Pumas bevestig.
“Na drie jaar in Japan is ek baie opgewonde om terug te keer Pumas toe. Dit is ‘n babatjie wat ek groot gemaak het. Ek sien veral daarna uit om die Laeveld weer my huis te maak waar die mense nog altyd bankvas agter die Pumas gestaan het. Ek is opgewonde oor die uitdagings wat voorlê,” het Stonehouse gesê.
Stonehouse vlieg vandag uit Japan uit waar hy deel van die Toshiba Brave Lupus se afrigtingskorps was.
Dit sal die vyfde jaar wees dat die Mpumalanga Rugbyafrigtersvereninging die Indaba-kliniek organiseer.
Lees ook: Mpumalanga Rugby-unie eerbiedig nie hooggeregshofbevel




