Shana, Larise en Jade oor die 900 punte ryker
Om meer as 900 punte op die ABSA-tabel by die eerste byeenkoms van die seisoen in te palm, wil gedoen wees.
Die 15-jarige Shana Scott het verlede week tydens Hoërskool Nelspruit se BUCO Interhuisbyeenkoms ‘n totaal van 954 punte in skyfwerp agter haar naam geskryf – dit is ook ‘n nuwe rekord.
Nuweling Larise Combrink het die 200m in 26,53s kafgedraf, wat 908 punte op die ABSA-tabel werd is.
Sy het dieselfde aantal punte in die verspringput met ‘n afstand van 5m behaal.
Jade Swanepoel het vir seuns o/15 die hoogspringlat op 1,75m gemeet (907 punte).
Larise, ‘n produk van Laerskool Nelspruit het selfs verder as die wenafstand van die o/14-seuns gespring.
Die Atheners se dogters het die Spartane met ‘n skrale halwe punt (426 teenoor 425) geklop, terwyl dit weer die Spartane se seuns was wat met ‘n totaal van 573,5, te veel skietgoed vir die Trojane (436) gehad het.
Die Spartane is egter 2018 se wenners met 999 punte, gevolg deur die Atheners (731,5) en die Trojane (678,5).
Hudige Suid-Afrikaanse spiesgooikampioen, Joshua Maass het met ‘n afstand van 6,95m die verspringitem vir seuns o/19 gewen.
Victrix ludorum
• O/14 – Lalie Grobler
• O/15 – Rhode Nel
• O/16 – Tayla Kotzee
• O/17 – Cherise van Duyker
• O/19 – Ilke Joubert
Victor ludorum
• O/14 – Handre van der Merwe
• O/15 – Van Reenen Kruger
• O/16 – Douw Kruger
• O/17 – Devon Nell
• O/19 – Ruan Labuschagne.









