Klein Banele steek die meeste aantal ASA-punte in sy sak
Hy kan daardeur as die dag se beste atleet beskou word.

Laerskool Laeveld het Saterdag vier goue medaljes ingepalm nadat hulle in die o/10-verspring, o/13-hoogspring, 150 m-hekkies en o/12-hoogspring koning gekraai het.
Banele Sithole het die hoogste ASA-punte in ‘n enkele item verower en kan daardeur as die dag se beste atleet beskou word. Dié o/9-naellopertjie het die 60 m in ‘n blitsige 09,10 gehardloop – slegs 0,01 agter die wenner, Randzu Mkabela van Bergland. ‘n Tyd van 12,00 het hom ook ‘n tweede plek in die 80 m-item verseker.
Dit was ‘n hartseer dag vir SA Skole Kampioenskappe-atleet, Therese Seyffert, wat by haar laaste interlaerbyeenkoms weens siekte met ‘n derde plek moes vrede maak. Nellies se Berry Kristen stap hier met die louere weg vir haar tyd van 05:18,19.
Ruan de Beer (o/12) het met ‘n naelskraapse 0,01 vir Laerskool Witrivier se steratleet Callum van Staden in die 150 m-hekkies onttroon en met goud weggstap. In die 75 m-hekkies het die geveg voortgeduur. Hier het Callum egter met die louere weggestap toe hy dié resies met ‘n oortuigende 0,22 wen.
Roland Stoltz het in die o/12-hoogspringitem ‘n hoogte van 1,36 m bereik en hiermee vir Benjamin Braack van Bergland onttroon.
Skoolhoof Theo Krüger wens Bergies se hoof, Gordon Lancaster en sy span baie geluk met die byeenkoms wat met groot sukses aangebied is. “Ons het julle gasvryheid terdeë geniet en vriendskapsbande is opnuut tussen die skole versterk.”
Lees ook: 1980’s se rekordboeke afgestof
Callum palm twee van Whities se goue medaljes in











