Tien uit tien vir Nellies se interlaer-atletiekspan
Gewigstoothelde van Laerskool Nelspruit, Vaughn van Zyl en Ashley Erasmus het albei in dié item nuwe rekords in die boeke vasgepen.
Hoewel Ashley nie haar persoonlike beste afstand van 14,15 m gegooi het nie, was sy steeds een van net drie atlete wat Saterdag by die Hi-Tech Interlaer meer as 900 ASA-punte in haar sak kon steek.
Sy het vroeër die seisoen tydens ‘n byeenkoms by CR Swart, die 14 m-merk oorskry. Haar afstand van 13,83 m het haar 967 ASA-punte besorg asook die goue medalje. Die bestaande rekord was 11,67 wat in 2003 opgestel is.
Ashley het Saterdag die prestasie vir die beste dogtersatleet van die dag asook veldatleet van die dag verower.
Vaughn het ook beïndruk nadat hy vir seuns o/11 met ‘n afstand van 12,79 m die goue medalje verower het. Hy het die rekord van 12,28 wat in 2004 opgestel is, verbeter.
Nellies se landloopdogter van 2017, Tanya Pieterse (o/12) het ook die tonge aan die gons gehad nadat sy die trofee vir die beste baanatleet asook die top-middelafstand van die jaar-trofee ontvang het.
Sy het eerste plekke in die 1 200 m (3:59:52), 150 m-hekkies (25,45), 150 m (22,09) en 100 m (14,52) los gehardloop.
Nellies het die volgende trofeë ontvang
Seuns
• Veld – Vaughn van Zyl, o/11-gewigstoot
• Middelafstande – Nathan Duncan, o/12, 1 200 m
• Atleet van die dag – Vaughn van Zyl, o/11-gewigstoot
• Senior victor – Charles-Timon Nel, o/13.
Dogters
• Baan – Tanya Pieterse, o/12, 1 200 m
• Veld – Ashley Erasmus, o/13-gewigstoot
• Hekkies – Shanese de Clerck, o/13, 200 m-hekkies
• Middelafstande – Tanya Pieterse, o/12, 1 200 m
• Atleet van die dag – Ashley Erasmus, o/13-gewigstoot
• Senior victrix – Shanese de Clerck, o/13.
Lees ook:
Klein Banele steek die meeste aantal ASA-punte in sy sak
Callum palm twee van Whities se goue medaljes in
1980’s se rekordboeke afgestof















