Local sportSport

Komaties verwerf 23 medaljes by hierdie jaar se interhoër

Die onblusbare gees en deursettingsvermoë van Komatipoort Akademie se atlete het hulle 23 medaljes besorg tydens Saterdag se interhoërbyeenkoms by Morgenzon Landbou-akademie.

Tien skole het Saterdag aan die interhoërbyeenkoms by Morgenzon deelgeneem en volgens die skool se sportorganiseerder, Ulrich Prinsloo, het die atlete sewe goue, nege silwer- en sewe bronsmedaljes verwerf (wat aflosse uitsluit).

Leerlinge moes douvoordag al opstaan sodat die busse 02:00 kon vertrek, maar kon by Alzu stop vir koffie. Dit was ‘n heerlike sonskyndag op Morgenzon en die meeste het bloedrooi gebrand die aand weer tuis gekom.

Komatipoort Akademie se parade gelei deur Chantoné van der Merwe en Paulo Goncalves. Foto: Zarlia Engelbrecht.

‘n Groep ouers en ‘n paar personeellede, insluitend die hoof en sy vrou, het ook die pad saam aangedurf om die kinders te ondersteun en die samesyn tussen hulle was wonderlik.

LEES MEER: Matrieks sorg vir hope pret by Komaties se interhuisatletiek

Die Komati-atlete was baie geesdriftig tydens die byeenkoms en het selfs vir die onderwysers by ‘n paar punte gaan help.

WG Engelbrecht. Foto: Zarlia Engelbrecht.

Die toppresteerders en gouemedaljewenners was Joy Ndlala (o/17-spiesgooi), Dian Vermaak (o/15-diskus en -gewigstoot), Thinus van der Westhuizen (o/16-diskus), WG Engelbrecht (o/17-spiesgooi), Dieter Diedericks (o/15-800 m) en Natasha Brown (o/19-gewigstoot).

Joy Ndladla. Foto: Zarlia Engelbrecht.

Volgens een van die onderwysers was die aflosse “fantasties” en “hoendervleis-mooi om na te kyk”. Die busse moes direk daarna vertrek.

LEES MEER: Atlete laat Saterdag weer rekords spat tydens Lanies se vriendskaplike byeenkoms

In teenstelling met hulle hope energie op die bus soontoe, het die kinders op pad terug ‘n duik in die kussings gemaak. Die busse het eers rondom 23:00 weer by die skool aangekom.

Kry meer foto’s van die byeenkoms op die skool se Facebookblad. Klik hier.

Die laerskoolatlete is môre (Vrydag) aan die beurt by die interlaer in Burgersfort, waar Laerskool Malelane ook gaan deelneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button