Atleet het borge nodig om haar tot by Meesters Wêreldkampioenskappe te kry
'n Gebrek aan fondse mag meestersatleet Agatha-Lee du Plessis se drome van die Meestersatletiekwêreldkampioenskappe in Spanje kelder.
Agatha-Lee du Pleesis, ‘n 62-jarige onderwyser van Komatipoort het gekwalifiseer om Suid-Afrika tydens die Meestersatletiekwêreldkampioenskappe in die hoogspring-, verspring- en 100 meter-item te verteenwoordig. Dit word in die eerste twee weke van September in Malaga aan die Meditereense kus gehou.
Die Suid-Afrikaanse meestersatleet vertel dat dit ‘n absolute hartsbegeerte is om haar land oorsee te verteenwoordig. Sy het al voorheen aan die Afrika-kampioenskappe deelgeneem.
Du Plessis het egter sowat R40 000 nodig om die noodsaaklike kostes van die reis te dek en benodig dringend borge.
Die atleet is in Nongoma Zululand gebore en het daar skoolgegaan. Sy het hoogspring gedoen en tennis gespeel. Sy matrikuleer by Hoërskool Vryheid, waar sy deelgeneem het aan swem, hokkie en lang afstande. Tydens haar studies aan Pretoria Onderwyserskollege het sy langafstande gehardloop.
Op 50-jarige ouderdom het KwaZulu-Natal Meestersatletiek haar genader om vir hulle veld- en baanitems te doen.
“Ek was glad nie spyt nie,” vertel sy. “Toe ek in 2014 na Komatipoort verhuis, het ek verneem dat Mpumalanga nie meestersbaan- en velditems aanbied nie en moes noodgedwonge by Gauteng registreer.
“Toe ek vir my klas vertel dat die meestersatlete vir vyf jaar in dieselfde ouderdomsgroep deelneem, het hulle gedink dis baie snaaks en uitgewerk dat jy byvoorbeeld 17 jaar oud kan wees en nog vir die o/13’s kan deelneem.
“Ek het vir hulle verduidelik dat al sou iemand aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelneem en eerste plek behaal, maar nie voldoen aan die medaljestandard nie, jy nie kwalifiseer vir ‘n medalje nie. Hulle het gedink dit is darem baie onregverdig.”
Lee, soos sy bekend is onder haar vriende, het al vele medaljes verwerf. Twee jaar gelede het sy by die Gauteng-Noordkampioenskappe op Pilditch ‘n goue medalje in hoogspring en 100 meter en silwer in verspring en spiesgooi verwerf.
LEES: Atletiese ouma steeds ‘n meester op veld en baan
Tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op dieselfde baan in Pretoria, behaal sy ook twee goud in hoogspring en verspring, sowel as silwer in die 100 meter en spiesgooi.
In 2017 behaal sy goud in hoogspring, verspring en 100 meter en ‘n silwer-medalje in spiesgooi by die Gauteng-Noordkampioenskappe.
By die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Groenpuntstadion in Kaapstad, behaal sy ook drie goud (hoogspring, verspring en 100 meter) en ‘n silwer in spiesgooi.
By die Rassie Erasmus Meestersbyeenkoms verower sy goud in hoogspring, verspring en die 100 meter.
Vroeër hierdie jaar het Lee weer drie goue medaljes behaal – in verspring, hoogspring en spiesgooi.
Diè talentvolle atleet het nog nooit ‘n professionele afrigter gehad nie.
WG Engelbrecht, ‘n gr.11-leerder by Komatipoort Akademie help haar met spiesgooi. Hy is die skool se beste spiesgooier en het goed gevaar in die Interhoër. Gr. 7-leerders, Carl Mbatha en Ilyas Ayoob wat albei trofeë ontvang het by die Interlaer vanjaar, staan haar by met die hoogspring.
Willie Gouws, ‘n afrigter van Middelburg wat Komati tydens die Garnaalfees besoek het, het haar gedurende dié paar dae touwys gemaak met verspring. “Ek is hom ewig dankbaar,” het sy gesê.
Belangstellendes wat dalk Du Plessis kan help met fondse, kan haar by 076-611-9262 of Chrissie by 082-529-5942 skakel.
