Ngodwana gee Olifante opdraande op tuisveld
‘n Hele paar spelers se lywe was ekstra seer na Saterdag se rugbywedstryd tussen Malelane Rugbyklub se tweede span en Ngodwana.
Die Olifante het Saterdagmiddag die naelbytstryd teen Ngodwana op hul tuisveld met 24-20 gewen.
Die manne het mekaar hard grond toe gebring en die noodhulpmense en paramedikus moes kort-kort met ys of ander doepa op die veld draf.
READ: Rugby: Malelane’s Olifante triumph against Ohrigstad’s Ratels
Malelane het met ‘n vaart weggespring en binne die eerste paar minute sewe punte op die telbord laat pryk.
Die Mambas van Ngodwana het hard geveg om Malelane van die doellyn weg te hou. Danksy goeie samewerking en ‘n paar blitsige lopies, het Malelane egter onder die pale gaan druk. Die drie is egter nie verdoel nie.

Malelane het ‘n derde keer agter die doellyn gaan kuier en het die drie verdoel vir ‘n 19-0 voorsprong.
Ngodwana se spelers het hierna ernstig begin terugveg en drie onverdoelde drieë voor halftyd gedruk.
Die Mambas het hulle aanval in die tweede helfde met nog ‘n onverdoelde drie voortgesit.
Malelane was egter vasbeslote om hulle teenstanders weer in te haal en het na ‘n lang stryd ‘n drie gekry vir ‘n 24-20 voorsprong.
Die eindfluitjie het ook op hierdie telling geblaas.
READ: Malelane Rugby Club face Lydenburg in first league match
Man van die wedstryd onder die voorspelers was Jason van Heerden en Ryno Koekemoer en agterlyn was Lucky en Gordon Mashele.
Malelane se tweede span speel weer op 11 Augustus tuis en kom teen Barberton te staan.
Die eerste span speel hierdie naweek teen die Ratels in Ohrigstad en sal op 28 Julie om 15:30 op hul tuisveld teen die Pumbas van Hoedspruit uitdraf.
