Onderberg-ringbalspelers blink uit by nasionale byeenkoms
'n Hele paar spelers van die Onderberg was deel van streeks- en provinsiale-ringbalspanne wat vroeër die maand by die Nasionale Ringbal-byeenkoms goed gevaar het.
‘n Jong atleet van Komatipoort, WG Engelbrecht spog weer met SA kleure in ringbal na ‘n skitterende vertoning by die Nasionale Ringbal-byeenkoms vroeër die maand. Hy is ook ingesluit by die SA uitnodigingspan.
Die byeenkoms het van 1 tot 7 Julie in Gesina, Gauteng plaasgevind en meer as 700 spelers van alle ouderdomme van regoor die land het deelgeneem.
Dominique van der Westhuizen (o/20), Danielle van der Merwe (o/20), Christn Engelbrecht (o/13) en Zarlia Engelbrecht (o/15) van Komatipoort Akademie en Komatipoorters Sino Repinga (o/15) en Sine Repinga (o/15) van Hoërskool Nelspruit het ook aan die byeenkoms deelgeneem. Die o/20’s was sewende in hulle liga en die o/15’s, agtste.

Dit was Dominique en Christn se eerste deelname, Sine en Sino se vierde en WG en Zarlia se sewende.
WG het twee jaar gelede ook SA kleure in klub- en skoleverband verwerf.
Van Malelane Ringbalklub was Sarie van Niekerk deel van die meestersdamespan en Simoné van Antwerpen was deel van die senior dames. Die meesters het agtste in die liga geëindig en die seniors was ligawenners.
LEES: Komati jukskeispelers meet hul vaardighede teen SA Meesters
Om vir die nasionale byeenkoms te kwalifiseer, moes die leerlinge tussen April en Junie aan proewe deelneem.
Tydens die kompetisie moes die o/13’s aan vyf wedstryde deelneem, die o/15’s aan ses, die o/20-dames aan sewe en die mans aan agt.
Die spel is baie uitdagend, dinamies en die mededinging onder die spanne straf. Aangesien hulle daardie week ‘n hele paar wedstryde moet speel, soms meer as een per dag, kom beserings algemeen voor.
Marthinus Prinsloo, wat op die Laeveldstreek se bestuur is, vertel dat die plaaslike atlete se prestasies besonder is aangesien hulle so min kans kry om saam te oefen. Atlete bly ver van mekaar maar het Saterdagmiddae by Van Riebeeckpark in Mbombela saamgekom om voor te berei vir die toernooi.
Die ouer atlete het ook werks-verpligtinge, terwyl die skoolgaande atlete skoolaktiwiteite het wat die oefening bemoeilik. Dit kos dus baie selfdissipline en toewyding, aangesien atlete fiks en in oefening moet bly vir ringbal.
