Die Skim praat oor…
Die Skim het in sy vorige rubriek sy aanhangers belowe om uit te vind wie verantwoordelik vir die befondsing van onse mees belowendste atlete is.

Die Skim het egter slegte nuus.
Na vele probeerslae aan Atletiek Mpumalanga en selfs die departement vir kultuur, sport en rekreasie, is die Skim bevrees dat die betrokkenes nie na die Skim toe teruggekom het nie.
‘n Atleet het in die week ‘n koppie koffie by die Skim kom geniet – hy was die vinnigste Comrades-atleet van al die plaaslike marathonklubs. Die rede vir sy besoek? Fondse.
Die Skim maak vandag ‘n belofte aan sy aanhangers. Die Skim sal soos ‘n drippende kraan aanhou navrae wegstuur totdat hy ‘n antwoord kry.
Die Skim wil graag van sy en al sy trawante se kant af, die Pumas met hul spogtrofee gelukwens. Manne, ons is darem maar trots op julle. Die Skim hoop van harte dat Suid-Afrika sien wat hulle in Jimmy Stonehouse het nadat nie een unie in hom belanggestel het voordat hy Japan toe is nie. En moet ook nie dink nou dat hy terug is, dat julle hom van die Pumas kan wegraap nie.
Nelspruit Rugbyklub het ‘n week terug gasheer vir die span van Sasol gespeel. Toevallig staan die Skim en ‘n ondersteuner van Sasol en gesels. Dié persoon sê dat Nelspruit vuiler as Witbank speel. Slaan my met ‘n nat snoek…
Daar was glo ‘n voorval tussen Witbank en Sasol waar ‘n speler van Witbank een van sy opponente sonder die bal gelak het dat sy been deur die vel gesteek het. Grillerig.
Die aanhanger het ook vertel hoe sy as Sasol na die Laeveld toe moet kom vir klubwedstryde, ‘n sekuriteitswag of twee saam met haar bring, want die assistentskeidsregter vee glo sy stert af aan spelers wat vuilspel aanmeld. Sy wil dalk net seker maak vir wanneer daar ‘n vuisgeveg is, dat haar wag spelers uitmekaar uit moet hou. Die Skim weet soms nie waarom daar assistentafrigters is nie.
As jy graag jou stem wil dikmaak, stuur vir die Skim ‘n epos na editorial@lowvelder.co.za. Die Skim sien uit om van jou te hoor.



