Local sportSport

Selati Rolbaltoernooi steeds ‘n gunsteling vir spelers regoor SA

Spelers van so ver as Kaapstad, Struisbaai, Reitz en Bethlehem het verlede week tydens die gewilde Selati Rolbaltoernooi by die Malelane Rolbalklub teen Laeveldse spanne te staan gekom.

Die Selati Rolbaltoernooi word reeds die afgelope 34 jaar aangebied en daar is elke jaar ‘n waglys weens groot belangstelling en die klub se beperkte baanspasie.

Alhoewel daar ‘n groot fokus op prettige aktiwiteite gedurende die week was, was die kompetisie straf. Volgens klubvoorsitter Stephen Venter neem die meeste van die spanne al jare aan die toernooi deel en is dit moeilik om te voorspel wie gaan wen. Hierdie jaar het die span van Reitz die trofee ingepalm.

LEES: Three Malalane bowls players to represent Mpumalanga

Vanjaar het twee spanne op die waglys die kans gekry om deel te neem. Elke span het een keer teen mekaar gespeel na ‘n loting en dié wat die meeste punte kon verwerf, is as die wenners gekroon.

Die toernooi het verlede Maandagoggend afgeskop en daar is tot Saterdag toe elke dag wedstryde gespeel. Woensdag kon spanne snaaks aantrek en liewenheersbesies, boemelaars en Bloubulspelers was op die veld te sien.

LEES: Rolbalbane weer vol bespreek by gewilde Selati-toernooi

Die Malelane-klub het Vrydagmiddag ‘n laatmiddagwildrit vir die deelnemers gereël en almal het die uitstappie terdeë geniet.

Saterdagaand was die gala-geleentheid met die tema “Bavarian Beer Festival”. Van die spanne het volgens die tema aangetrek en Venter sê dit was ‘n reusesukses danksy die uitstekende kos van Hooked on Malalane.

Die deelnemers en hulle gades het vir die week ‘n tentdorp langs die bane opgeslaan en daar het ‘n feestelike atmosfeer geheers.

Volgens die spelers is dit een van die beste toernooie in die land en Venter sê hulle het reeds ‘n waglys vir volgende jaar.

Belangstellendes word genooi om by die Malelane Rolbalklub aan te sluit. Die klub spog met ‘n hele paar spelers wat baie goed op provinsiale en nasionale vlak vaar.

Spelers oefen en kuier op Woensdagaande en Saterdagmiddae.Vir meer inligting, skakel gerus Piet Smith by 083-564-3025 of Venter by 082-451-1715.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button