Vier eerste plekke vir Carla
Wanneer Curro Swem Akademie (CSA) se Carla Mouton haar voete in 'n swembad steek, kry sy 'n goue medalje.
Die afgelope naweek was geen uitsondering nie toe die 15-jarige vier eerste plekke by die tweede been van die Mpumalanga Ouderdomsgroepgala opgeraap het.
Sy het haar eerste goue medalje in die 100 m-borsslag in ‘n tyd van 1:19,32 verower met Kayla
Schefermann (Uniswim Nelspruit) in die tweede plek en Guppie Tigers (GT) se Simoné de Beer derde.
Simoné het egter die bordjies in die 200 m-individuele wisselslag teen Carla verhang toe sy die eerste plek in ‘n tyd van 2:42,39 verower het.

Carla is egter nie die enigste swemmer wat met groot welslae in die swembad kon spog nie.
Langafstandswemmer Jordyn Minifie is terug in die water nadat sy langer as ‘n maand buite aksie was.
Oudergewoonte het sy die 400 m-IM in 5:26,72 gemaklik gewen. Dié swemmer, ook van CSA het die volgende dag by die jaarlikse LowMed ope waterswemreeks ‘n algehele tweede plek in die 3 000 m met haar tyd van 41:53 behaal.
Jordyn het ook eerste plekke in die 200 m-vryslag en 400 m-IM losgeswem.
GT se Jakobus Terblanche het in ‘n naelbyteindronde die 100 m-rugslag met ‘n tyd van 1:08,27 die muur eerste geraak, gevolg deur CSA se Gerard Venter (1:09,88) tweede.
Tydens die eerste ouderdomsgroepgala het Jakobus ook die boontste plek op die podium ingeneem.
Jetro Piso (Uniswim Nelspruit) en Middelburg se Reece Zowitsky het mekaar opdraande in die waters gegee.

