Local sportSport

‘n Groot jaar wag op Nellies se Shanese, Ashley

Toekomstige steratleet van Hoërskool Nelspruit, Ashley Erasmus het die afgelope naweek tydens die NWU Pukke se top 30-byeenkoms vir vuurwerke gesorg.

Die gr. 7-leerder van Laerskool Nelspruit is as die junior victrix ludorum asook die beste dogterveldatleet aangewys.

Sy het eerste gekom in die skyfwerp vir dogters o/14 met ‘n afstand van 40,28 meter – ‘n volle 1 200 punte op die ABSA-tabel werd. Twee weke gelede tydens die Elardus Erasmus top 20-byeenkoms het sy ook ‘n goue medalje gewen vir haar afstand van 36,44 meter.

 

Die 13-jarige het nog ‘n medalje in haar sak gesteek toe sy ‘n tweede plek in gewigstoot met ‘n afstand van 13,75 meter (1 037) behaal het.

‘n Atleet van Hoërskool Randburg het die item met ‘n afstand van 13,89 meter gewen.

Nog ‘n Nellie, Shanese de Clerck het ook die tonge aan die praat gehad.

Shanese de Clerck.

Met ‘n hoogte van 1,55 meter (955) het sy die boonste plek op die podium ingeneem. Haar persoonlike beste hoogte in die item is 1,66 meter.

Shanese se 5,22 meter (979) in die verspringput was genoeg om vir haar die tweede plek te besorg. Adrienne Gallop was eerste met ‘n afstand van 5,31 meter (1 010).

NHS se staatmaker, Douw Kruger (o/16) het sy aanslag op die nuwe seisoen momentum gegee, toe hy in skyfwerp (50,40 meter, 1 002) en gewigstoot (16,77 meter, 1 001) die magiese 1 000 punte oortref het.

Jongeling Luthando Mabuza (o/15) het ‘n puik 941 punte vir sy 2:03.67 in die 800 meter verower.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button